Vier studente van die Overberg-judo-akademie het by die CWJA-toernooi, wat onlangs plaasgevind het, uitgeblink. Voor is Will Fielies en Zachery Marthinus. Agter is Bradley “JJ” Makaza, sensei Nathan van der Horst en Willnesia Fielies.


Vier studente van die Overberg-judo-akademie in Riviersonderend het behoorlik uitgeblink en gewys wat in hulle steek toe hulle drie goue en een bronsmedalje by die Kaap-Wynland-judovereniging (CWJA) se toernooi in die Paarl gewen het.

Will Fielies, Zachery Marthinus en Willnesia Fielies het goud huis toe gebring en Bradley “JJ” Makaza brons.

Die vier is deel van ses judoka van die akademie onder leiding van sensei Celton Hendricks, en gaan in die nabye toekoms aan verskeie toernooie van die CWJA deelneem om te kwalifiseer vir ’n plek in die span wat van 2 tot 6 Julie aan die SA skolekampioenskap in Bloemfontein gaan deelneem.

Die twee ander spanlede is Ivolin Arendse (8) en Mia Arendse (7).

Sensei Hendricks, wat bygestaan word deur sensei Nathan van der Horst, sê hy het volle vertroue in sy judostudente aangesien hulle al talle medaljes sowel as indrukwekkende titels in hul ouderdoms- en gewigsklasse gewen het.

In 2023 het die negejarige Zachery, Mia (7) en Will (10) as die SA kampioene in hul onderskeie afdelings geëindig terwyl Ivolin brons by die nasionale toernooi gewen het. Nog ’n sterstudent van die Overberg-judo-akademie is Wilfred Palmer, wat ook in 2023 in sy ouderdoms- en gewigsafdeling as die SA kampioen geëindig het. Wilfred het ook die vierde plek by die Statebondspele behaal.

Zachery, Will, Mia, Willnesia, Ivolin en Bradley moet op 11 Mei en 8 Junie weer na die Paarl reis om aan CWJA-toernooie deel te neem. Heinrich Sauls, die Overberg-judo-akademie se spanbestuurder, het die gemeenskap versoek om hierdie belowende jong judoka te ondersteun met skenkings om die vervoerkostes te help dek.

“Vervoer is een van ons grootste uitdagings. Ons versoek ook hulp met ligte maaltye aangesien die kinders vir lang tye weg van die huis af is wanneer hulle aan toernooie deelneem. Energiedrankies, piesangs en ander ligte verversings sal ideaal wees,” het hy bygevoeg.

“Met die oog op die nasionale kampioenskap in Julie in Bloemfontein word ’n aantal geldinsamelingsprojekte beplan. Meer inligting hieroor sal later bekend gemaak word.”

Die verwagting is dat elke deelnemer in die nasionale kampioenskap ’n inskrywingsfooi van R650 moet betaal. Vervoer en verblyf (met drie maaltye per dag ingesluit) sal na verwagting ongeveer R4 500 per deelnemer beloop.

Elke deelnemer moet ook ’n sweetpak, waarvan die pryse volgens grootte van R725 tot R920 wissel, en ’n T-hemp met hul nommer, wat R220 kos, hê.

“Dis ’n aansienlike bedrag, veral vir ouers met meer as een kind wat aan die toernooi deelneem, en daarom vra ons die Overberg-gemeenskap se hulp om hierdie kinders te help om hul potensiaal te bereik,” vra Sauls.

Die klub het Alecia Groenewald en Herman Bailey wat brandstof en ligte etes vir die vorige toernooi geborg het en ook die speaker van die Theewaterskloof-munisipaliteit, Derick Appel, se kantoor, wat die volgende toernooi se vervoerkostes gaan dek, vir hul ondersteuning bedank.

Enigeen wat die klub met skenkings of borgskap kan ondersteun, kan Heinrich by heinrich.sauls@ gmail.com of 066 370 5131 of Celton Hendricks by 071 872 6836 of celtonhendricks@gmail.com kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article