Emoji Movement, ’n organisasie sonder winsbejag, het onlangs op 22 Julie ’n loopbaandag in Myddleton aangebied, waar verskeie organisasies inligting oor moontlike loopbaankeuses aan jong mense verskaf het.
Janine Botha van Emoji Movement het gesê hulle werk spesifiek met die jeug van Myddleton, maar hulle hoop om met verloop van tyd uit te brei na Caledon, Genadendal en Tesselaarsdal.
“Hier kon jong mense ’n goeie idee kry van wat verskillende beroepe behels en om moontlik as vrywilligers of in ’n internskap te gaan werk.
“Hierdie was die eerste gebeurtenis van dié aard wat ons aangebied het, en ek is baie dankbaar dat al die organisasies wat genooi is, opgedaag het. Hulle het soveel meer na die tafel gebring as wat ek verwag het. Dit was ’n baie suksesvolle dag.”
Van die beroepe waaroor die jong mense meer kon uitvind, het tuisverpleging, die polisiediens, noodhulpdienste, biblioteekwese, politiek, joernalistiek, eiendomsverkope, korrektiewe dienste, brandweerdiens, onderwys en internettegnologie ingesluit.





