Theresa Plaatjies en Deidre Michael saam met die sewe Swartberg-atlete wat deelgeneem het.


Sewe atlete van Swartberg Primêr het onlangs die voorreg gehad om aan die Endurocad-talent-identifikasieprogram deel te neem.

Endurocad (SA Endurance Academy) het onlangs Beaufort-Wes, Knysna en Bredasdorp besoek om belowende jong atletiektalent vir die 2024-beursprogram te identifiseer.

Die bekende atleet en Olimpiese medaljewenner Elana Meyer is die uitvoerende hoof van Endurocad. Saam met die ewe bekende Zola Budd en verskeie afrigters het hulle skole in dié dorpe en omliggende gebiede genooi om deel te neem. Endurocad het in 2022 begin om talentvolle atlete uit onderontwikkelde gebiede, waar daar min hulpbronne of geleenthede is, te identifiseer om hul atletiese en akademiese vermoëns te ontwikkel. Aan suksesvolle kandidate sal daar deur die Stellenbosch-atletiekbeurs­program ’n beurs toegeken word om in 2024 ’n leerder aan die Hoërskool Stellenbosch te wees.

Theresa Plaatjies, bestuurder van die Swartberg-atlete, noem dat dit ’n wonderlike geleentheid vir hierdie graad 7-atlete was om aan hierdie program, wat by die Glaskasteel in Bredasdorp aangebied is, deel te neem.

Uit die verskeie skole wat deelge­neem het, sal 40 atlete van die Over­berg-streek geïdentifiseer word om aan die volgende tuiskliniek in Stellenbosch deel te neem.

Die afrigter van die Swartberg-atlete, Deidre Michaels, alombekend as Coach D, sê dit was ’n baie goeie ervaring vir hulle almal. “Hoewel die kinders nie eintlik bewus was van wie Elana en Zola is nie, het hulle voor die tyd na video’s van hul sportprestasies gekyk,” sê Michaels. “Vir my was dit baie inspirerend, want ek het hulle nog altyd as helde en rolmodelle gesien. Hoewel ek Elana nog nie voorheen ontmoet het nie, het ek al in dieselfde Spar-wedloop as sy gehardloop.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article