Nie eens die koue kon die jeug keer om deel van die Jeugdag-bedrywighede in Myddleton te wees nie.Foto: Mitzi Buys


Jeugdag word jaarliks op 16 Junie in Suid-Afrika gevier. Verskeie aktiwiteite word gereeld op dié dag vir die jeug van Caledon aangebied, maar hierdie jaar het Myddleton, net buite Caledon, die eerste keer ’n sportdag vir die jeug aangebied.

Ná dae van onophoudelike reën was Vrydag 16 Junie ’n heerlike sonskyndag en baie kinders, sowel as volwassenes, het by die Myddleton-sportterrein opgedaag om hierdie besondere dag te vier.

Eerwaarde Paul Oliver van die organisasie Men of Purpose, wat die sportdag aangebied het, sê: “Dit is die eerste keer dat ons so iets vir ons jongmense aanbied en ek is bly oor die goeie opkoms vandag. Ons beywer ons vir die jeug van Myddleton en het ook vroeër vanjaar ’n groep jongmense na ’n universiteit in Kaapstad gestuur vir ’n oriënteringsdag sodat hulle kan besluit in watter rigting hulle ná skool wil gaan studeer.”

Verskeie stalletjies, wat onder meer boereworsrolle, pannekoek, groente en vrugte en heerlike gebak aangebied het, het tot die feestelike atmosfeer bygedra.

Janine Botha, een van die organiseerders, het aan Hermanus Times gesê: “Ons doen hierdie in samewerking met Men of Purpose. Ons het lekker speletjies vir die hele gesin en vir die kinders is daar gesigverf, boeresport en appel-in-die-bak.

“Ons het na die gemeentelede uitgereik om aan die bedrywighede deel te neem deur stalletjies op te rig waar verskeie artikels te koop aangebied is.”

Die dag is afgesluit met vyf-aan-’n-kant-sokkerwedstryde en nie eens ’n sopnat veld kon die entoesiasme van die jongmense demp nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article