Die groep jeugdiges van Caledon wat onlangs suksesvol ’n tweedaagse noodhulpkursus bygewoon het saam met ambulansdiens-personeel, Raadslid Yvonne van Tonder en Tanya Bippert van Liber8 was ook teenwoordig. Foto: Mariëtte Strydom


Die Caledon-ambulansdiens het onlangs in samewerking met Liber8, ’n nieregeringsorganisasie vir jeug-bemagtiging, ’n tweedaagse noodhulpkursus vir jong mense in Caledon aangebied.

Tanya Bippert van Liber8 sê: “Hierdie program, wat praktiese opleiding in noodhulp sowel as ’n geskrewe toets behels, bemagtig ons jeug om hulle gemeenskap in ’n noodgeval by te staan en te stabiliseer totdat ’n ambulans beskikbaar is. Deur hande te vat met die nooddienste kan die jeug ook besluit of hulle verder in hierdie rigting wil studeer, of ’n paramedikus of ambulansbestuurder wil word.”

Charles Marthinez, hoof van Caledon- en Riviersonderend- ambulansdienste, sê: “Daar is te min ambulanse om orals uit te kom en dit is waarom ons na ons gemeenskappe uitreik en hulle oplei vir noodgevalle. Ons het ’n WhatsApp-groep, waarby ek altyd ingesluit is oor die gevalle in verskillende gebiede, en op dié manier kan ek hulp en bystand vir die nodige behandeling verleen totdat die ambulans opdaag.”

Marthinez sê almal het baie goed in die kursus gevaar en die twee toppresteerders het noodhulpkissies ontvang. “Ons kan ongelukkig nie aan almal noodhulpkissies gee nie, maar tydens die kursus het ons hulle gewys hoe hulle kan improviseer en wat hulle kan gebruik om byvoorbeeld bloeding te stop.”

Raadslid Yvonne van Tonder was daar in ’n ondersteunende rol en sê: “Ek voel hierdie is baie belangrik en dit gee ook vir die jeug in ons omgewing ’n geleentheid om vorentoe te gaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article