Dis ’n tradisie wat voortleef vandat Sparks Esterhuysen voorverlede week oorlede is . . .

Inwoners en toeriste was gewoond aan Oom Sparks wat gereeld die dassies by Gearings Point gevoer het, en na sy afsterwe het baie gewonder oor wie nou met die tradisie gaan voortgaan.

Japie Jonker van Mount Pleasant sê hy het ’n jaar en ’n half gelede begin om die dassies te voer. “Ek het gehoor Oom Sparks is siek en het hom nie meer by Gearings Point gesien nie. Ek het gedink ek moet maar by hom oorneem en die dassies voer. Ek het in elk geval niks om te doen deur die dag nie,” vertel die 60-jarige wewenaar.

As die dassies Japie met sy kenmerkende rooi sak sien en sy geroep hoor, kom hulle al aangehardloop. Met Hermanus Times se besoek terwyl Japie die dassies voer, het hulle gulsig na die brood en wortels wat hy vir hulle uithou, gegryp. Hy baklei met hulle soos stout kinders en wys hoe een van hulle hom al gebyt het. Terwyl hy nog so beduie, gryp een van die dassies sy hoed en Japie skarrel agterna. Dit is duidelik dat Japie en die dassies ’n goeie verhouding het en mekaar baie geniet.

Hy ken elke dassie en ook hul gewoontes. “Daardie een is skaam; hy kom laaste sy kossies haal – die ander boelie hom,” verduidelik Japie terwyl hy die dassie paai en hom ’n wortel voer.

Japie is oorspronklik van Villiersdorp en het lank op plase rondom Caledon gewerk. Hy het in 1982 na Hermanus verhuis om by die munisipaliteit se waterwerke afdeling te werk. “Ek is al so lank in Hermanus, dit voel vir my of ek nog op geen ander plek gewoon het nie. Julle gaan my nie glo nie – in die 41 jaar wat ek hier woon, het ek nog nooit ’n vis gevang nie,” lag hy.

Hy vertel hy het sy vrou ’n paar jaar gelede verloor en toe besluit om elke oggend by die see stil te word en te mediteer. “Ná my vrou se dood was ek baie alleen. Ek moes iets doen om my gedagtes af te lei. Ek het elke dag langs die see kom sit en stil geword. Ek het met die Here gesels, Sy skepping bewonder en gesien hoe Oom Sparks die dassies voer. Ek het gedink ek kan dit ook doen om my gedagtes af te lei,” vertel hy terwyl hy oor die see kyk. “Ek het begin om die dassies te voer, om met hulle te gesels, om so sin van die lewe te maak. Dit is vir my lekker en toe ek hoor Oom Sparks is siek en hy kan dit nie meer kom doen nie, het ek by hom oorgeneem,” vertel hy.

Hy sê hy doen dit nie omdat hy iets daaruit wil kry nie; hy doen dit vir die liefde van die saak. “Ek kry nie geld nie. So nou en dan sal ’n toeris vir my ’n geldjie gee en ek kry skenkings van brood, maar verder geniet ek dit net.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article