Die uitvoerende burgemeester van die Overstrand, Dr Annelie Rabie, het alle inwoners en besoekers aan die gebied ’n geseënde feestyd in ’n spesiale boodskap toegewens.

Sy het in die boodskap ook ’n kort oorsig van die afgelope jaar se uitdagings sowel as hoogtepunte uiteengesit.

“Twintig-drie-en-twintig het voorwaar sy eie uitdagings, beproewings en ontberings ingehou, waarvan die een-in-200-jaar-vloed glad nie gering geskat moet word nie,” het Rabie gesê.

“Dit het al ons reserwes erg beproef en ons vermoë om as ? munisipaliteit en ? gemeenskap hande te vat, tot op die keper gedryf, maar ek is trots om te kan sê dat Overstrand se gemeenskap sterk staan en dat ons, deur saam te werk, daartoe in staat is om enigiets waarmee ons gekonfronteer word, die hoof te bied.”

Sy het ook melding gemaak van die munisipale werkers en personeel wie se harde werk vrugte afgewerp het toe verskeie afdelings van die munisipaliteit op provinsiale en nasionale vlak toekennings en lofbetuigings ingeoes het.

Die uitvoerende burgemeester het alle besoekers en inwoners versoek om water spaarsamig te gebruik om die risiko van ontwrigting van water- en riooldienste, veral tydens beurtkrag, te verminder.

Ter afsluiting het Rabie gesê: “My wens is dat almal van julle ’n wonderlike feesseisoen sal geniet en, in die gees van die seisoen, die geborgenheid van ware liefde en vreugde sal ervaar.

“Mag volgende jaar net vrede en die allerbeste vir jonk en oud inhou. Aan almal wie se geliefdes ver weg is, of wat dalk iemand na aan hul hart die afgelope jaar aan die dood afgestaan het – mag julle en jul families versterk word deur die ryke onderskraging van die vriendekring en gemeenskap rondom julle. My hartlike dank aan almal vir jul ondersteuning in die loop van 2023 en mag ? ieder en ? elk ? fantastiese feesseisoen beleef!”. Munisipale kantore en biblioteke in die Overstrand (nooddienste uitgesluit) sluit Vrydag 22 Desember om 13:00 en heropen Woensdag 27 Desember om 07:45. Dieselfde reëling geld vir Vrydag 29 Desember. Die kantore sal dan weer Woensdag 3 Januarie om 07:45 open.

Besoek www.whalecoast.info/events-calender/ vir nog inligting rakende aktiwiteite en feestelikhede in die Overstrand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article