Die skuif van Caledon Casino na Somerset-Wes lok baie reaksie uit.


Die omstrede plan om die Caledon Casino na Somerset-Wes te verskuif, kry nou teenkanting van oral.

In Caledon voel die inwoners die skuif gaan beteken dat dit tot baie werkverliese gaan lei, terwyl Helderberg-inwoners weer voel die casino gaan ’n negatiewe impak op die buurt hê.

Die ontwikkeling vir die beplande casino is in ’n woongebied en op erf 29 van die plaas 794, wat voorheen deel van die Somerset-Wes-gholfbaan was.

’n Openbaredeelnameproses is Vrydag (12 Julie) in die Helderberg oor die toekoms van ’n casino in Somerset-Wes gehou aangesien die aard van die besware en kommentaar wat deur deelnemers ontvang is, die Wes-Kaapse Raad op Dobbelary en Wedrenne genoodsaak het om so ’n openbare vergadering te hou. ’n Soortgelyke vergadering is op 11 Junie in Caledon gehou.

Tsogo Sun se direkteur van sake-intelligensie en -ontleding, Rajesh Dullabh, het op die vergadering die ekonomiese en maatskaplike voordele van die casino in die Helderberg beklemtoon. Hy het verder insig gegee oor die R1,1-miljard-konstruksie wat oor drie fases gaan strek, asook die opknapping van die huidige casino in Caledon as ’n potensiële vierster-oord wat onder meer die herontwikkeling van die spa, die opgradering van die hotel, die konferensiegeriewe en restaurante insluit. Hulle beplan ook buitelugaktiwiteite asook ’n ekstra speelgebied vir kinders.

Volgens Dullabh word die opgradering op R70 miljoen beraam.

“Ons verbind ons tot gemeenskapsbetrokkendheid en ekonomiese ontwikkeling en daarom gaan ons plaaslike verskaffers en kontrakteurs, wat aan B-BBEE-vereistes voldoen, gebruik. Hierdie inisiatief gaan nie net oor die verbetering van die omgewing nie, maar ook oor finansiële groei en gemeenskapsvoordele,” het Dullabh gesê.

Gemengde gevoelens het op Facebook geheers oor die skuif van die casino. Van die Helderberg-inwoners voel dat die skuif van die casino die waarde van hul eiendomme gaan beïnvloed aangesien dit tot meer verkeer in hul gebied gaan lei, terwyl ander voel dat dit die “verkeerde elemente” na die buurt gaan lok.

Pieter Human, ’n inwoner van Somerset-Wes, het ernstige bedenkinge oor die voorgestelde casino-ontwikkeling en het sy sê op die openbare vergadering gesê.

Hy het ook sy teleurstelling uitgespreek oor die beperkte toegang tot noodsaaklike inligting oor die beplande ontwikkeling.

Hy het verder gesê navorsing dui daarop dat casino’s dikwels die plaaslike ekonomie benadeel deur uitgawes weg te lei van klein- en medium ondernemings, wat sodoende tot werkverliese kan lei.

Van die inwoners voel weer ’n mens moenie so naïef wees nie en verwelkom die casino in die omgewing.

“In ’n tyd waarin werkloosheid hoogty vier, kan die casino ’n aanwins vir die omgewing wees en kan dit werk skep. Dis tyd dat ons dit moet beskou as ’n finansiële inspuiting in die omgewing wat werk sal skep en sodoende ook misdaad sal verminder, want mense steel omdat hulle nie geld het nie,” het nog ’n inwoner gesê.

Caledon-inwoners is baie meer positief oor die skuif as dié van die Helderberg.

Volgens Lizël Kimber van Beyond Black Mountain (BBM) in Caledon, wat toerisme in die omgewing bevorder, gaan die proses van die skuif van die casino nog ’n tydjie neem.

“Dit is nie ’n oornagproses nie en dit kan tot twee jaar neem. Meer besware is van Helderberg-inwoners as Caledon-inwoners geopper. Ek weet mense vrees werkloosheid, maar dis ’n wanpersepsie aangesien die warmwaterbronne en die hotel meer voete as die casino lok,” het sy gesê.

Volgens die hoofbestuurder van Caledon Casino, Lynton January, verbind Tsogo Sun hom tot sy korporatiewe maatskaplike belegging en sal fokus op finansiering vir onderwys, sport, toerismebemarking en die skep van volhoubare gemeenskapsontwikkeling.

Hy het ook gesê R15 miljoen is geoormerk vir verbeterings aan begunstigdes, wat plaaslike skole en organisasies in Lwandle insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article