Kuberboelies is ‘n werklikheid en ouers moet na hul kinders se gedrag let.


Kuberboelies is ’n groeiende verskynsel onder internetgebruikers, maar veral skoliere aangesien die meeste van hulle slimfone het.

Volgens die Verenigde Nasies se kinderfonds (Unicef), word kuberboeliery beskryf as “afknouery met die gebruik van digitale platforms soos sosiale media. Dit is herhaalde gedrag wat daarop gemik is om diegene wat geteiken word bang, kwaad, of skaam te maak”. Bykomende aanlyn boeliegedrag sluit in die verspreiding van gerugte, dreigemente of seksuele opmerkings, asook die bekendmaking van persoonlike inligting. Hierdie soort boeliegedrag kan plaasvind op WhatsApp, Facebook, Instagram en Tik Tok, sowel as ander sosiale mediaplatforms soos aanlyn rekenaarspeletjies. Skoliere en ouers in die Overberg is ook nie immuun teen hierdie gedrag nie en word aangemoedig om vir tekens hiervan uit te kyk.

Hoe weet ek my kind is ’n slagoffer van kuberboeliery? Senuweeagtig of bang om skool toe gaan; senuweeagtig en rusteloos wanneer daar gebruik gemaak word van sosiale media; huiwerig om inligting oor hul aanlyn aktiwiteite bekend te maak; onverklaarbare gewigsverlies of gewigstoename, hoofpyn, maagpyn, of verlore eetlus; slapeloosheid in die aande, en moeg gedurende die dag; geen belangstelling aan stokperdjies wat voorheen beoefen was nie; ’n onttrekking van familie en vriende; en in sommige gevalle selfmoordgedagtes.

Voor ’n kind immers ’n slagoffer van kuberboeliery word, is daar verskeie maniere om dit te voorkom. Een so ’n manier is om seker te maak dat ’n kind weet daar is volwassenes in die rondte op wie se knoppie gedruk kan word, en wie vertrou word. ’n Kind is dan minder geneig om in stilte te ly. Nog ’n voorkomingsmaatreël sluit in om kinders op te voed oor wat kuberafknouery is, en om die boodskap oor te dra dat iets daaraan gedoen kan word. Dit is ook van belang om die skool in te lig waar die kuberboelie sowel as die slagoffer skool gaan, en om ’n saak te maak by die polisie indien wette oortree word, soos byvoorbeeld wanneer fisieke dreigemente gemaak word. Daar is ook ander voorkomingsmaatreëls soos byvoorbeeld om elektroniese toestelle te kontroleer tot op ’n sekere ouderdom. Indien professionele hulp gesoek word deur slagoffers van kuberboelies, of volwassenes wat bekommerd is oor ’n kind se welstand, kan Childline geskakel word op 116 vir gratis bystand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article