Hermanus word beskou as die walviskyk-paradys, sy munisipaliteit is een van die bestes in die land en toeriste kom van oor die wêreld heen om dié mooie kusdorp te kom verken.
Maar as jy dieper na die pragtige kusdorp met sy mooi natuurskoon, wêreldbekende Cliff Path, kunsgallerye, topskole en kunstefeeste kyk, is daar ’n onderliggende hartseer van vergete gemeenskappe soos Westdene.
“Westdene is meer as ’n buurt – dis ’n erfenis. Dit is jare gelede vir die wit vissergemeenskap gegee en ons wat hier grootgeword het, gaan nie weg nie. Ons oupagrootjies het hier gebly; ons het as kinders hier in die strate gespeel en nou speel ons kinders hier in die strate,” vertel Herman Badenhorst, ’n inwoner van Westdene, wat ook die buurt se belange op die hart dra.
Maar vir die inwoners van Westdene, wat al ’n jare lange verbintenis met die buurt het en wie se hoop daarop gevestig is om eiendom in die buurt te besit, lyk die toekoms maar duister.
“Van ons name is al van die jare 80 op die lys en ons hernu elke jaar ons aansoeke. As ons met die munisipaliteit, ons raadslid en die departement van behuising oor ons probleem praat, kry ons die koue skouer. Altesaam 18 erwe is vir behuising uitgesit en hulle het aan ons gesê ons kry eerste voorkeur.
“Ons besef dat 10% van daardie erwe na mense van Mount Pleasant en ander buurte moet gaan, maar steeds het ons nog geen erwe gekry nie en dit word aan mense gegee wie se name ná ons op die lys gekom het. Ons wil net weet hoe werk die prosedure en wil antwoorde hê,” het Herman gesê. Volgens hom is die verskonings van die owerhede iets om oor te lag. “Elke jaar is daar versko-nings oor waarom ons nie erwe kry nie. Van ons aansoeke is al op die ashoop gekry en dan het die gebou waar ons aansoeke was,ook afgebrand. Ek beklemtoon weer – ons name is op die lys en ons hernu ons aansoeke jaarliks.”
‘belaglike verskonings’
Jacques Swart stem met Herman saam en vertel dat die verskonings nou belaglik word. “My naam is nou al vir jare op die lys en elke jaar gaan hernu ek dit. Hierdie jaar vertel hulle my my naam is glad nie op die lys nie,” kla hy. “Ek het dadelik weer my naam op die lys gaan sit.”
Hierdie situasie noop baie inwoners van Westdene om agterplaasbewoners te word, wat ook volgens hulle deur die munisipaliteit afgeskiet word.
“Ek, my vrou en my twee kinders het in ’n wendyhuis agter in my skoonma se erf gebly. Die munisipaliteit het ons 24 uur gegee om die wendyhuis af te breek aangesien dit glo ’n brandgevaar is. Ons gesin het toe vir ’n lang tyd in ons motor gewoon,” vertel Herman. Vandag woon hulle weer in sy skoonma se erf, maar dié keer in twee woonwaens.
Hermanus Times het verskeie inwoners saam met Herman besoek, wat in Westdene by familielede woon en vir jare al vir behuising wag.
Een van hulle, wat in haglike omstandighede woon, is Bianca Geldenhuys, wat in ’n wendyhuis saam met haar man, haar ma en drie kinders woon. Terwyl Bianca haar omstandighede verduidelik, loop die trane, want die dood van haar 17-jarige seun, Carlo, is nog vars in haar gedagtes.
Volgens haar het Carlo nog altyd probleme met sy bors gehad, maar met die reën het die wendyhuis baie nat geraak en het dit sy bors só benadeel dat dit tot noodlottige gevolge gelei het. Hy is in Junie verlede jaar dood.
“Ek as ma voel skuldig. Ek is die ouer; ek moet vir my kinders ’n dak oor hul kop gee waar hulle veilig is en teen natuurelemente beskerm word. Ek het as ouer gefaal,” vertel sy in trane.
Nog ’n inwoner, wat op die bank in haar ma se sitkamer slaap, vertel sy het in Westdene grootgeword, haar naam al in die jare 90 op die lys gesit en sy wag steeds vir behuising. “Ek weet nie wat aangaan nie. Ons wag nou al jare en steeds kry ons niks nie,” vertel sy.
twee kinders al dood; steeds g’n huis
Volgens ’n inwoner wie se grootouers destyds in Westdene gebly het en waar sy grootgeword het, gaan dit vir haar oor mense soos Bianca wat ’n huis nodig het. “Die arme vrou het al twee kinders aan die dood afgestaan. Waarom sien die owerhede nie ons swaar raak nie? Dis waar ons grootgeword het; ons is ’n unieke gemeenskap wat saamstaan en mekaar se belange op die hart dra.
“My dogter het hier grootgeword. Is sy nie geregtig op ’n erf nie?” vra sy.
Terwyl sy die geskiedenis van die Westdene-vissersgemeenskap met almal deel, vertel haar kleinseun dit gaan oor wortels. “Al wat ek van my grootouers oor het, is die buurt. Ek wil op geen ander plek woon as hier nie. Dis my wortels,” vertel hy terwyl die trane loop.
Die Overstrand-munisipaliteit asook die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur is gekontak oor die aangeleentheid en oor wat die inwoners van Westdene moet doen om erwe te bekom, maar teen druktyd is geen terugvoering nog ontvang nie. . Die behuisingsprobleem in Hermanus moet volgens inwoners nou dadelik aandag geniet. Die Paradisepark-saga is op die onlangse raadsvergadering bespreek.
Dr. Annelie Rabie, die Overstrand-burgemeester, het gesê sy wil dit duidelik maak dat die munisipaliteit empatie het met die inwoners en dat sy met die departement van infrastruktuur rakende Paradisepark gaan vergader.
“Ons sal daarna met die inwoners van Paradisepark ’n vergadering fasiliteer,” het sy gesê.
Masizole Mnqasela, die president van die Alliance of Citizens for Change (ACC), het gesê hy is tevrede met die vordering. “Ek sal nie opgee nie. Ek sal bly veg vir die inwoners van Paradisepark,” het hy beklemtoon.





