Tannie Mona Brikkels (middel voor) met die pragtige blommekrans wat sy gemaak het saam met die deelnemers en die aanbieders van die Big Dreamers-werksessie.Foto: Mitzi Buys


Op skool word leerders akademies vir hul toekomstige loopbaankeuses voorberei vir wanneer hulle die skool verlaat.

Iets wat dikwels agterweë bly, is basiese lewensvaardighede en dit is hoekom verskeie organisasies in en om Caledon besluit het om die “Big Dreamers”-lewensvaardighede- werksessies aan te bied. Dié werksessies was oorspronklik gemik op gr.11- en gr.12-leerders, maar dit het gou duidelik geword dat jonger leerders asook volwassenes die programme wil bywoon.

Lizël Kimber van Beyond Black Mountain, een van die aanbieders, noem aan Hermanus Times: “Die opgewondenheid in die gemeenskap oor wat ons doen, het ons verbaas, maar dit is ook opwindend om dit te sien. Dit wys duidelik dat daar ’n behoefte aan so iets is. Dit kan enigiets behels van byvoorbeeld hoe om ’n knoop vas te werk tot hoe om ’n soom in te sit of blomme te rangskik.”

Kimber noem ook dat hulle graag ander instansies wil nader om te verduidelik hoe om ’n begroting op te stel en hoe om ’n CV te skryf.

“Ons wil jong mense toerus vir wanneer hulle die skool verlaat en die arbeidsmark betree. Ons wil graag selfstandige, selfversekerde, gesonde jong mense wat ekonomies aan die gemeenskap kan teruggee, die wêreld in stuur.”

Nie alle werksessies sal praktiese demonstrasies wees nie. Daar sal ook praatjies oor geestesgesondheid en algemene gesondheid wees. “Ons wil mense ’n veilige plek gee waarheen hulle kan kom – ’n plek waar ons saam kan groei vir ’n gesonde gemeenskap,” sê Kimber.

In die somermaande sal ook op sport gefokus word.

Kimber noem dat nie alle leerders die geleentheid kry om in skoolsportspanne opgeneem te word nie. Op hierdie manier kan gemeenskapsportspanne ontstaan, wat teen mekaar kan meeding.

Tydens die eerste byeenkoms was daar hoofsaaklik jonger kinders wat die interaktiewe speletjies terdeë geniet het. Die tweede byeenkoms het groot belangstelling onder volwassenes sowel as jongmense gelok.

Tannie Mona Brikkels van Myddleton het gedemonstreer hoe maklik dit is om ’n pragtige blommekrans te maak. Almal teenwoordig is met armsvol blomme huis toe om dit wat hulle geleer het, prakties toe te pas.

Die werksessies is gratis en word een keer per week op ’n Woensdag tussen 15:00 en 16:00 by die ou Swartberg Sekondêre skool aangebied. Ná elke byeenkoms word ligte versnaperings aan die deelnemers voorgesit.

Buiten Beyond Black Mountain is Emoji Movement, die Caledon-museum, Joe “The Leather Man” Arendse en die Wes-Kaapse Sportkonfederasie by die werksessies betrokke.

Bel Lizël Kimber by 071 121 4428 of Janine Botha by 083 464 1075 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article