Heinz Meissner van Sandbaai met sy debuutroman Rolf se restourasie, wat deur Turksvy-publikasies uitgegee word.


Niks is vir hom lekkerder as om tussen sy boeke te wees nie, want dis sy manier om sy gedagtes op ’n ontdekkingsreis te neem.

Heinz Meissner van Sandbaai het nooit gedroom dat hy ook eendag lesers met een van sy boeke op ’n ontdekkingsreis gaan neem nie. Dit was eers toe hy boeke en artikels gelees het oor hoe om ’n boek te skryf, dat dié idee begin posvat het en sy debuutroman, Rolf se restourasie, het in April die lig gesien.

“Die eerste weergawe van Rolf se restourasie was ligjare ver weg van wat enige leser sou wou lees,” erken Heinz.

Maar nadat hy na kundiges op die gebied van manuskrip-ontwikkeling uitgereik, goeie raad soos ’n spons opgeneem en ’n kreatiewe skryfkuns-kursus by Skryfnet voltooi het, het die finale weergawe van sy boek gestalte begin aanneem.

Volgens Heinz is die tema van die verhaal herskepping. Die hoofkarakter, Rolf, word gekonfronteer met hartseer en situasies wat sy integriteit uitdaag en hy moet diep binne hom gaan soek vir antwoorde en rigtingwysers.

“Daar kom gedurig goed oor ons pad wat lyk asof dit onoorkombaar is. Dit is dan wanneer ons die held in ons eie lewensverhale moet word om hierdie donker wolke te verdryf sodat ons die lig aan die ander kant kan sien en vreugde en liefde kan ervaar,” verduidelik Heinz.

Rolf se restourasie word deur Turksvy-publikasies uitgegee. Marlene Malan, eienaar en besturende direkteur van Turksvy-publikasies, het ook die redigering van die boek behartig. Sy vertel die manuskrip het dadelik haar aandag getrek omrede dit só anders as baie ander boeke op die winkelrakke is.

“Die verhaal speel af in die hartjie van Johannesburg, met die sakewêreld as agtergrond waar korrupsie en rampokkery weens oneerlike openbare figure hoogty vier. Rolf se lewensreis is iets besonders, en ’n mens wil nie ophou lees totdat jy weet wat met hom gaan gebeur nie.”

As Heinz nie met sy neus in boeke is nie, of die omgewing verken nie, is hy ’n arbeidsverhoudings-beampte. Hy hou baie van stap en is lief vir die Overberg-streek. .Rolf se restourasie is by www.turksvypublikasies.co.za te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article