Die Elim Blues-rugbyklub het Maandagaand ’n roudiens gehou vir Denzel Apollis wie se liggaam verlede week in die see by Hermanus gevind is.
’n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur nadat Apollis, ’n bekende in rugbykringe, se familie hom Dinsdag 4 Julie by die Kleinmond-polisie as vermis aangemeld het.
Sy voertuig is die volgende oggend teen ’n helling af langs die R44 tussen Rooiels en Gordonsbaai gevind. Van Apollis was daar egter geen teken nie.
Kapt. Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig dat polisieduikers Dinsdag 11 Julie, ’n week nadat Apollis vermis geraak het, deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) ontbied is in verband met ’n liggaam wat in die water gedryf het.
“Die liggaam is uit die see verwyder en per boot na die Nuwe Hawe vervoer,” het sy bygevoeg.
’n Geregtelike doodsondersoek is ingestel.
Elim Blues-rugbyklub het verlede Dinsdag (11 Julie) geskryf dat dit met “diep leedwese” is dat hulle verneem het Apollis se oorskot is gevind.
“Ons innige medelye gaan uit aan sy eggenote, Jacky, sy kinders, sy ma, broers, uitgebreide familie, wye vriendekring, kollegas en gemeenskappe van Elim en Kleinmond. Denzel of Dempie soos hy alombekend was, was ’n liefdevolle mens, vaardige vakman en kranige sportman wat diep spore in Elim Blues se geledere getrap en nagelaat het . . . Rest In Peace Legend, jy sal altyd in ons harte gekoester bly,” lui die inskrywing verder.
Raadslid Grant Cohen, speaker van die Overstrand-munisipaliteit, het ook op Facebook hulde aan Apollis gebring. Cohen se plasing lui: “Dit is met ’n swaar hart dat ek dit skryf. Denzil, jy was ’n vriend en iemand na wie ek altyd opgekyk het.
“Jou liefde en passie vir die gemeenskap en jou bereidwilligheid om altyd betrokke te raak en te help, het altyd vir my uitgestaan . . .
Kaap Agulhas-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Paul Swart, wat ook ’n inwoner van Elim is, het ook sy medelye met Apollis se familie uitgespreek en geskryf: “Dit is hartseer. ’n Mens verstaan dit nie, maar God bly in beheer van alles hoe bitter ook ons smart . . . My hart pyn vir hul verlies.”




