Onwettige vullisstorting bly ’n probleem en amptenare van die Theewaterskloof-munisipaliteit het saam met die Nederlandse Waterraad, Coca- Cola en inwoners van Grabouw en Villiersdorp op Mandela-dag die strate van Villiersdorp en Grabouw skoongemaak.


Onwettige vullisstorting bly ’n probleem in die Overberg.

Volgens een toeris wat gereeld die Overberg besoek, ontsier onwettige vullisstorting die mooie Overberg. “Ek besoek die Overberg gereeld vir naweek-wegbreke en die gateway na die Overberg, Grabouw, laat veel te wense oor,” het die lesersbrief gelui. “Maar wat vir my hartseer is, is die feit dat die res van die Overberg ook deesdae ’n varkhok word.”

Volgens die Overstrand-munisipaliteit sukkel hulle net soos die Theewaterskloof-munisipaliteit met onwettige vullisstorting.

“Vullis wat gereeld onwettig in die Overstrand gestrooi word, maak dit moeilik vir munisipale werkers om die dorp skoon te hou,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, gesê. “Die munisipale werkers maak elke dag skoon, maar as hulle die volgende dag na dieselfde plek terugkeer, dan is daar net weer vullis.”

Volgens O’Neill word die situasie net erger en strooi mense rommel oral waar hulle gaan. Hy maan ook die mense om nie vullis op straat te strooi nie, maar om dit eerder in een van die talle asblikke op straat en langs die Cliff Path te gooi. “Kom ons neem elkeen die verantwoordelikheid om ons dorp skoon te hou,” het hy gesê.

Wenke om jou dorp skoon te hou:. Plaas jou huishoudelike vullis in swartsakke of in die wieletjiesdromme en sorg dat dit betyds buite jou woning gesit word vir die munisipaliteit om te verwyder;. Tuinvullis word nie deur die munisipaliteit verwyder nie; kontak jou plaaslike munisipaliteit om uit te vind waar jy tuinvullis kan stort en watter tye die perseel oop is. . Moenie vullis, ou meubels, elektriese toerusting en ander vullis langs die pad stort nie. Dis onooglik en skep ’n negatiewe beeld van jou dorp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article