Herstelwerk aan die De Bosdam-pyplyn het begin.


Die Overstrand-munisipaliteit is hard besig om die skade wat die onlangse oorstromings aan die infrastruktuur in die omgewing aangerig het, te herstel.

“Die munisipaliteit het ’n kontrakteur aangestel om die De Bosdam-pyplyn en die Bosplasie-rioolpyplyn, wat in die onlangse oorstromings weggespoel het, te voltooi. Die kontrakteur is tans op die perseel om die De Bosdam-pyplyn en die Hemel-en-Aarde-vallei-pyplyn te herstel,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, gesê.

Herstelwerk aan die De Bosdam-pyplyn het begin.

Werk het gister (24 Oktober) aan die Bosplasie-rioolpyplyn in Onrusrivier begin. “Ons vra alle inwoners om water so spaarsamig as moontlik te gebruik,” het O’Neill gesê.

Intussen is die brug van die kuspaadjie voor die Windsor-hotel onveilig verklaar en vir die publiek gesluit.

Inwoners en veral toeriste het hul misnoeë hieroor uitgespreek en gewonder hoe lank die herstelwerk sal duur. “Die brug, wat ongeveer 13,5 m lank is en ongeveer 5 m bo die rotse gebou is, moet heeltemal oorgebou word. Die skade aan die brug is groter as wat ons gedink het en die koste om dit te herstel, word tans bereken,” het O’Neill gesê. “Die raad sal eers ’n besluit rakende die finansiering van die brug neem as die kostes bereken is. Om voetgangers die geleentheid te bied om die kuspaadjie te gebruik, sal die paadjie tot by die brug geopen word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article