Van kleins af droom meisies van hul matriekafskeid, en hoe nader dit aan die tyd kom, hoe opgewonder raak hulle.
Maar die droom is nie vir almal beskore nie en van die leerders moet hul kinderdrome laat vaar aangesien hulle nie die nodige hulp en geld vir rokke, grimering, naels, hare en foto’s het nie.
Hermanus Times het besluit om na skole uit te reik om van die leerders se drome waar te maak.
“Ons is deel van die gemeenskap en dra die belange van ons lesers op die hart. Dit is waarom ons besluit het om vanjaar by ’n matriekafskeid-projek betrokke te raak waar ons saam met die gemeenskap help om matrieks se drome te verwesenlik,” het Mariëtte Strydom, redakteur van Hermanus Times, gesê.
Matriekafskeidsgesellighede in die Overberg het vanjaar vroeg begin met Groenberg Sekondêr in Grabouw wat al sy afskeid op 19 Maart gehou het.
Volgens die skool is dit een van die grootste groepe matrieks en wil hy al die gesellighede soos die matriekafskeid vroeg afhandel sodat die leerders op hul akademie kan fokus.
Saam met twee vroue van Grabouw, die bekende haarkapper Valencia Parnell en die skoonheidsdeskundige Mercy Mutambe van Munana Beauty, is meisies van Grabouw vir hul spesiale dag bederf. Valencia en Mercy is dit eens dat hulle daar wil wees vir die gemeenskap en graag help waar dit nodig is.
Skole wat graag leerders vir hul matriekafskeid wil help met rokke, skoene, grimering, hare ensovoorts, kan Mariëtte by 028 312 3717 bel of e-pos stuur na mariette.strydom@ helderberg.com of WhatsApp na 082 443 2184. . Om Valencia en Mercy te ondersteun, bel hulle by 079 474 5947 of 062 955 9249.





