Huise en paaie is oorstroom en groot dele van die Overstrand is reeds meer as 24 uur sonder krag weens sterk winde en swaar reën wat die gebied getref het.
Noodspanne van die onderskeie munisipaliteite oor die Overberg heen werk onverpoos om stormskade op te klaar en mense wie se wonings oorstroom het, by te staan. Die Botrivierdam loop tans oor, maar volgens die munisipaliteit hou dit geen onmiddellike gevaar vir inwoners in nie aangesien die water in klein stroompies langs natuurlike roetes wegvloei.
Die Theewaterskloof-munisipaliteit het vroeg vanoggend bevestig dat die Franschhoek-pas weens rotsstortings gesluit is. “Daar is tans geen beraming van wanneer dit weer vir verkeer oopgestel sal word nie,” lui die munisipaliteit se verklaring. Daar is ook ’n beroep op motoriste gedoen om uiters versigtig op die pad te wees en dit te vermy om deur diep water te ry. “Wees veral saans versigtig aangesien dit in die donker moeiliker is om gevaar raak te sien.”
Clarence-rylaan is steeds oop vir verkeer, maar word deur die owerhede gemonitor. Volgens die Overberg-distriksmunisipaliteit is waarskuwingstekens op die pad tussen Bredasdorp en Struisbaai aangebring om motoriste te waarsku oor water op die padoppervlak. Dié pad is steeds oop vir verkeer, maar word deurgaans gemonitor. “Daar is tans geen probleme op die Karsrivier, Nagwag, Struisbaai en Swellendam-paaie nie, maar motoriste word gewaarsku om dit met groot versigtigheid te benader.”
Overstrand steeds sonder elektrisiteit
In die Overstrand moes tegnici gisteraand weens die donker en swaar reën herstelwerk aan vier kragmaste op Rotaryweg, wat weens die stormweer beskadig was, staak. Die Overstrand se uitvoerende burgemeester, dr. Annelie Rabie, het Donderdagaand in ’n verklaring verduidelik dat die gebied waar die kragmaste geleë is, byna onbegaanbaar vir selfs stootskrapers is aangesien die grond baie nat is. Overstrand se munisipale bestuurder, Dean O’Neill, het Donderdagoggend bevestig dat die spanne van Eskom hard besig is om die skade te herstel en blykbaar die situasie onder beheer het.
Eskom kon nie bevestig teen wanneer die kragtoevoer na dorpe wat deur die probleem geraak word, herstel sal word nie.“Die feit dat ons sonder elektrisiteit is en die kragopwekker by die hoofkantoor in Hermanus buite werking is, het veroorsaak dat alle internet- en foonlyne af is. Dit sal dus byna onmoontlik wees vir die publiek om die munisipaliteit te kontak,” aldus O’Neill. Betaalpunte by die munisipale kantore in Gansbaai en Hermanus is gesluit.
¦ Inwoners van die TWK-munisipale gebied kan die munisipaliteit se tolvrye nommer 080 021 4730 vir enige bystand kontak. Die Overstrand se inwoners kan die munisipaliteit se 24 uur bystandnommer 028 313 8111 in geval van nood skakel.



