Inwoners van Hermanus en omliggende gebiede kan nou uitsien na lesings en demonstrasies oor hoe die ou Japannese kuns bonsai beoefen word.
Die rede hiervoor is dat ’n groep bonsai-entoesiaste in die Overstrand-gebied besluit het om ’n amptelike bonsaiklub te stig, naamlik Kujira Bonsai Kai. Kujira is die Japannese woord vir walvis en heel gepas verskyn hierdie soogdier ook op die klub se kenteken.
Kujira gaan maandeliks in die Eatery-restaurant in Village Square vergaderings hou. Ervare bonsaiers sal lesings aanbied sowel as hulp aan beginners. By die volgende vergadering –Saterdag 6 April om 15:00 – sal Denise Krige ’n praatjie lewer oor die “vyf stadiums van Bonsai”. Denise was jare lank ’n toonaangewende lid van die Bloemfontein-bonsaiklub en sy sal haar ervaring aan belangstellendes oordra.
Kujira gaan ook by Hermanus se FynArts-fees betrokke wees. Die klub sal ’n uitstalling van sy lede se uitgesoekte bome by Marine-hotel aanbied.
Daarby sal ’n spesiale werksessie vir beginners op 12 Junie as deel van die fees by die Eatery aangebied word.. Kontak Peter Theron by 083 627 0936 of Denise Krige by 082 570 5104 vir nog inligting oor die nuwe klub.





