Die groep oudleerders van die destydse Hoërskool Caledon tydens hul reünie.Foto’s: Mariëtte Strydom


Van hulle het in 1951 gematrikuleer en ander later in die jare vyftig, en steeds het hulle moeite gedoen om Woensdag (30 Oktober) by die Hermanus-gholfklub bymekaar te kom vir die reünie van die destydse Hoërskool Caledon, wat vandag as die Hoërskool Overberg bekendstaan.

“Namate die tyd aanstap, raak ons getalle minder, maar ons is aangenaam verras dat 38 ‘leerlinge’ onderneem het om saam te kom eet,” het die organiseerder, Jan Kühn, wat in 1952 gematrikuleer het, gesê. “Ons het hierdie keer matrikulante so lank terug as 1964 gevra om saam te eet. Dit is nou 60 jaar ná matriek. Sover ons kon vasstel, leef net sewe van die 1952-klas. Toe ons paar in 1952 in matriek was, was die 1964-matrikulatie in sub A.”

Die huidige hoof van die Hoërskool Overberg, Johan Jacobs, asook een van die mees bekende oudleerders van die skool, Lampie Fick, was ook teenwoordig. Fick was voorheen die adjunkminister van landbou en dié teenwoordig kon nie wag om sy mening oor die Regering van Nasionale Eenheid te hoor nie.

By aankoms is die oudleerders almal met ’n glasie vonkelwyn verwelkom terwyl staaltjies gedeel is oor die “goeie ou dae”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article