Gerugte doen die ronde dat een baan van die Hemel-en-Aarde-pad binne die volgende twee weke dalk oopgestel gaan word.


Dit is nou al meer as sewe weke vandat die oorstromings die Overberg letterlik lamgelê het – mense is dakloos gelaat, paaie is gesluit en sakeondernemings trek swaar.

Een van die streke wat seker die hardste getref is, is die Hemel-en-Aarde-vallei, soos die wynplase en ondernemings op die R320 tussen Caledon en Hermanus. ’n Mens kry nie net wêreldbekende en bekroonde wynplase op dié pad nie, maar ook padstalle en ander vakansieplekke wat van die toerismebedryf afhanklik is en die sluiting van die pad en die ompad via Karwyderskraal het ’n noemenswaardige ekonomiese invloed op hulle gehad.

“Ons het die afgelope tyd minder voete by ons gehad en dit maak dit baie moeilik. Eers was dit die Covid-19-pandemie wat ons in 2020 en 2021 beetgekry en ’n groot uitwerking op die wynbedryf gehad het, en nou die sluiting van die pad ná die oorstromings,” het Lizette Kühn, uitvoer- en verkoopbestuurder van die gesogte wynlandgoed Bouchard Finlayson, gesê.

Volgens haar het hulle al pleidooie na Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap, gerig om die pad so gou as moontlik te herstel.

“Ons het wel ’n voëltjie hoor fluit dat een baan van die pad dalk binne die volgende twee weke gaan oopmaak. Ons hoop werklik so aangesien dit vir almal ’n baie moeilike tyd is.”

Sy sê ook hulle het wel planne beraam om iets vir die Desember-vakansie te doen. “Ons beplan ’n opwip-proelokaal in die middel van Hermanus waar besoekers kan kom wynproe en aankope doen. Ons glo so iets kan werk om net meer blootstelling vir die wynplaas te gee. Die ideaal is natuurlik dat besoekers die plaas met sy asemrowende uitsig en historiese erfenis kom besoek en die keldertoer bly ’n belewenis, maar die opwipwinkel glo ek sal nie net voete na die plaas lok nie, maar ons ook baie blootstelling gee,” het Lizette gesê.

Volgens Wayne van den Heuvel, hoofbestuurder van La Vierge op die Hemel-en-Aarde-pad, het die oorstromings in September op ’n baie ongeleë tyd gekom. “Ons is besig om gereed te maak vir die somer en die Kerstyd en die oorstromings het ook skade aan ons infrastruktuur aangebring, maar ons glo ons sal binne die volgende twee weke alles herstel hê en sal sake kan doen soos in die verlede. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie – as dit nie vir die ongelooflike span van La Vierge was nie, sou ons dit nie kon regkry nie,” het Wayne gesê.

Hy sê verder die besoekers aan die proelokaal en restaurant het ook drasties verminder nadat die pad gesluit is. “Ons het na alternatiewe oplossings soos ’n opwip-proelokaal in Hermanus gekyk, maar die onsekerheid oor wanneer die R320 en die N2 sal oopmaak, die koste en regulasies van tydelike dranklisensies en die arbeidskwessies, het dit vir ons baie moeilik gemaak,” sê hy.

Volgens hom gaan hulle nou fokus om meer voete op die plaas te kry. “Ons het ons wynproe- en -paring se spyskaart aangepas en ons is besig om ’n kalender vir die besige tyd saam te stel. Verder het ons ook die tyd gebruik om ons personeel wat in die proelokaal werk, op te lei sodat ons die beste kliëntediens daar kan stel en ons kliënte met ope arms sal kan verwelkom. Die beplanning en opleiding help ook dat ons almal positief bly.”

Volgens hom het sakeondernemings in die dorp ook na hulle uitgereik en het hulle hul venues aangebied om wynproeë te hou. “Ek wil dit weer beklemtoon dat ons uitsien na die besige seisoen en dat ons ons gaste met ope arms verwelkom.”

Clinton Lerm, ’n raadslid van die Overstrand-munisipaliteit, het ook op Facebook gesê die kontrakteurs is hard aan die werk op die R320 en “die verwagting is dat ’n stop-en-ry-stelsel binnekort daargestel gaan word”.

Volgens hom is ’n datum nog nie bekend nie en ’n persverklaring sal uitgereik word sodra die pad oop is.

Teen druktyd kon niemand nog bevestig wanneer die pad oopgestel gaan word nie. . La Vierge: 028 313 2007. Bouchard Finlayson: 028 312 3515

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article