Lorné Adams van Mount Pleasant laat haar nie afskrik deur die feit dat sy die enigste vrouesokkerspeler by die SAFA-Overberg-sokker-akademie is nie. Hier is sy tydens ’n oefensessie toe sy as spanlid van die Wes-Kaapse span aan ’n toernooi in Bloemfontein deelgeneem het.


Verbeel jou jy kry die geleentheid van ’n leeftyd wat ’n beter toekoms nie net vir jou nie, maar ook jou familie kan beteken, maar die enigste hindernis is finansies. Dit is presies die tameletjie waarmee Lorné Adams (14) en haar geliefdes sit.

Talentsoekers het hierdie talentvolle jong sokkerspeler se talent by ’n toernooi raakgesien en haar gekeur om deel te wees van die Overberg-sokkerakademie.

Haar afrigter, Marion February, sê Lorné het dringend die gemeenskap se hulp nodig om haar toekoms te verseker.

“Lorné is ’n goeie voorbeeld van ’n jong meisie wat van ’n arm familie kom, waar haar ma hard werk om te voorsien wat sy nodig het en die familie haar ondersteun.

“Sy het finansiële hulp nodig om op datum te bly met die fooie by die private kollege en sokker-akademie. Dit is ’n bekendstellingsprojek en die streek het tans nie die nodige geld daarvoor nie, wat beteken dat die ouers vir alle kostes en hul kinders se vordering by die akademie verantwoordelik is,” verduidelik February.

“Dit is meer as ’n sokker-akademie, haar skool- en sokkerloopbaan gaan hier hand aan hand en haar studies en sokkervaardighede word hier ontwikkel en geslyp.”

Volgens February, ’n ervare en gekwalifiseerde sokkerafrigter en sokkerspeler wat al vir Athlone Santos, Liverpool Portland en Spurs Ladies gespeel het, toon Lorné goeie potensiaal en werk sy hard om haar doelwitte te bereik.

Sy het Lorné raakgesien by ’n spesiale sportdag in Hawston waar meer as 100 meisies meegeding het om talentsoekers te beïndruk.

“Lorné het uitgestaan tussen die groep meisies . . . Haar coach het haar in elke moontlike posisie gespeel en op elke posisie het sy uitgeblink. Sy het as kaptein haar span gemotiveer.”

Drome in gedrang

Nes February glo Lorné se familie aan haar talent, tot so ’n mate dat haar broer Bejorgan Bruintjies sy maandelikse ongeskiktheidstoelaag gebruik om haar uitgawes te help dek.

Haar ma, Maureen Frans, werk slegs twee dae per week, maar sê hoewel dit maar broekskeur gaan, doen hulle als in hul vermoë sodat Lorné by die akademie kan bly en haar droom om ’n professionele sokkerspeler te word, kan bereik.

“As sy as gevolg van geldelike probleme nie meer na die akademie kan gaan nie, sal dit ons breek, want sy sal nooit weer so ’n geleentheid kry om bo haar omstandighede uit te styg nie.”

Lorné vertel die sokkergogga het haar vyf jaar gelede gebyt toe sy by JustCare in Mount Pleasant aan dié sport begin deelneem het.

“Sokker is vir my meer interessant as karate, tennis en netbal waaraan ek voorheen deelgeneem het. Ek speel striker en verdediger en kan die spel lees. My droom is om professioneel sokker te speel,” vertel sy.

“As ek nie meer akademie toe kan gaan nie sal dit baie sleg wees, maar ek sal nie opgee nie; al moet ek in Bredasdorp gaan slaap, sal ek ’n plan maak om by coach Marion te kom, want sy is die beste en ek leer baie by haar. As ek nie meer by die akademie kan wees nie, sal dit vir my voel my lewe val uitmekaar, maar coach het my geleer om nooit op te gee nie.”

Lorné se droom is om eendag vir Banyana Banyana, die nasionale vrouesokkerspan, te speel, haarself as sokkerafrigter te bekwaam en ’n plek van veiligheid vir hawelose kinders te begin en vir hulle sokkerafrigting te bied.

Volgens February is Lorné al meisie by die akademie, maar sy is nie al een wie se drome deur finansiële probleme gekelder kan word nie.

“Lorné is al meisie en sy moet ekstra hard werk, want die lewe is nie maklik vir vroue in hierdie veld wat deur mans gedomineer word nie. Daar is vier talentvolle seuns wie se ouers ook finansieel sukkel.

“Ons pleit by die gemeenskap om hierdie talentvolle sokkerspelers te help om hul drome te laat waar word.”

Enigeen wat Lorné wil borg of finansiële bydraes wil maak, kan Maureen Frans by 072 855 1349, SAFA-Overberg se streeksekretaris Anda Ntanta by 067 077 5837 of Martien Konstable by 082 748 5030 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article