Heidehof Tehuis vir Bejaardes in Caledon het op 3 Mei 60 jaar oud geword, en om dié geleentheid te vier, is ’n teepartytjie en musiekkonsert Vrydag 5 Mei vir inwoners en personeel aangebied.
Rika du Buisson, wat 36 jaar by Heidehof gewerk het – 26 daarvan as bestuurder – was die gasspreker. “Ek wil Heidehof gelukwens, want nou ná 60 wonderlike jare is Heidehof ook amptelik ’n senior burger,” het Du Buisson gesê.
“In my jare hier het ek gesien hoe getrou die Here is en hierdie gebou, die inwoners en die bestuur elke dag ondersteun en gedra het.”
Du Buisson het kortliks die geskiedenis van die ACVV asook dié van Heidehof weergegee. Die ACVV, wat in 1904 deur vrywillige vroue gestig is, het maatskaplike werk begin doen toe hulle sien hoe baie vroue en kinders swaarkry. Kantore is landwyd geopen en Caledon se ACVV-kantoor is in 1912 gestig. Dié kantoor was oor die jare heen ’n groot baken in Caledon danksy die maatskaplike werk wat hulle gedoen het.
“Destyds is besef ’n behoefte aan behuising vir senior burgers bestaan, en die tehuis is in 1963 gestig. Dit was aanvanklik soos ’n selfversorgende koshuis waar bejaardes kon woon. Met die besef dat ouer mense ook mediese versorging benodig, is die toringgebou opgerig en die koshuisgedeelte is die huidige siekeboeg.”
Weens die groot aanvraag na veilige verblyf en goeie versorging vir senior burgers, het Heidehof uitgebrei tot waar dit vandag is, met kamers, ’n siekeboeg en woonstelle waar ouer mense gelukkig en veilig kan woon.
Du Buisson het afgesluit met: “Dit was vir my ’n voorreg om 36 jaar hier te werk. Ons het bymekaar gestaan deur alles en ons moet onthou ons moet hande vat, maar bo alles moet ons onthou wie eintlik die bestuurder van Heidehof is: die Here was deur al die jare getrou en het gesorg vir geld, dat ons vrywilligers het en dat ons elke aand veilig kon gaan slaap. Ons moet nooit ophou om te glo nie, al raak ons hoe moedeloos by tye. As jy terugkyk, sien jy die goue draad van 1963 af – die draad wat die ACVV in 1904 begin het.”
Die groot verrassing van die dag was toe die bekende Suid-Afrikaanse sanger Manie Jackson spesiaal vir die inwoners kom sing het.
Jackson het die inwoners in ’n uur lange optrede met sy sang en staaltjies vermaak. Dat die inwoners dit terdeë geniet het, was duidelik op hul gesigte te sien en agterna in hul opmerkings gehoor.
Jackson sou oorspronklik ’n openbare konsert as geldinsameling vir Heidehof aanbied, maar omdat kaartjieverkope onvoldoende was, is die konsert afgelas. Jackson het aan Hermanus Times gesê: “Ek was in elk geval in die omgewing vir ander konserte en het toe besluit om ter viering van Heidehof se 60ste bestaansjaar vir die inwoners te kom sing.”
Esther Möller, uitvoerende bestuurder van Heidehof, het haar dank teenoor Jackson uitgepreek – nie net vir die pragtige vertoning nie, maar ook vir sy bereidwilligheid om agterna gesellig met die inwoners te verkeer dat hulle kon foto’s neem, en vir handtekeninge en om selfs ’n sangitem met een van die verswakte bejaardes te doen.
Möller het ook die Dameskring Caledon, wat besig is met ’n verfraaiingsprojek by Heidehof, bedank vir die pragtige dekor en blomme vir die spesiale geleentheid, asook vir Feedem, die nuwe spysenieringsverskaffer, vir heerlike versnaperings.
Fana de Wet, voorsitter van die Dameskring Caledon, het gesê dit was vir hulle ’n voorreg om betrokke te wees.





