Tannie Dolores Prinsloo (92), wat die hele konsert gereël het.

Mitzi Buys

’n Groepie inwoners en personeel van die Heidehof-tehuis vir bejaardes het Woensdag 18 Oktober op ’n “busrit” na Bettysbaai gegaan.

Maar gits, was dít nou vir jou ’n anderste busrit. Eers is gesukkel om die bus aan die gang te kry en die bestuurders het agterstevoor gesit, om van die passasiers nie eens te praat nie.

Een het ’n skreeuende baba by haar gehad, ’n ander een het definitief te diep in die bottel gekyk, en nog een het glad haar hondjie in haar handsak saamgeneem. En dominee Willem, wat ook saamgery het, wou gaan visvang in Bettysbaai en het medepassasiers se rit versuur met sy stinkende rooiaas wat hy onder almal se neuse rondgeswaai het. Om alles te kroon, was daar ’n kaper op die bus, maar gelukkig het een van die passasiers hom met sy kierie katswink geslaan.

Tannie Dolores Prinsloo (92), wat die hele konsert

Tannie Dolores Prinsloo, ’n 92-jarige inwoner van Heidehof, was die meesterbrein van dié soms skreeusnaakse konsert, wat Die busrit genoem is.

Hoewel Tannie Dolores met ’n loopraam na die bushalte aangeskuifel het, het sy dié gou laat staan en ’n paar flinke klopdans-passies uitgehaal. Die loopraam was net deel van die konsert.

Dié konsert, wat net vir die inwoners se plesier was, was deel van Heidehof se 60ste verjaardag en Tannie Dolores wou die inwoners, van wie die meeste 80 jaar en ouer is, laat besef dat hulle ook nog pret kan hê. In haar jonger dae was Tannie Dolores die klopdans- en balletjuffrou op Smithfield.

Dit was ’n vrolike, interaktiewe konsert met klavierspel, liedjies en baie lag – presies die soort afleiding waarmee almal kon doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article