Inwoners van Hawston Heights was baie dankbaar toe hulle verlede week wieletjiesdromme ontvang het.
Overstrand se uitvoerende burgemeester, dr. Annelie Rabie, en lede van die burgemeesterskomitee, het Donderdag 2 Maart die eerste dromme aan die inwoners oorhandig. Altesaam 378 huishoudings in Hawston Heights sal mettertyd wieletjiesdromme ontvang. Die uitdeel van die dromme, sê Overstrand se munisipale bestuurder Dean O’Neill, is ’n poging om inwoners aan te moedig om die kwessie van onwettige vullisstorting aan te spreek.
“Dis ’n bekende feit dat dit baie duurder is om vullis wat onwettig gestort is, skoon te maak as om vullis uit dromme te verwyder.” Die wieletjie-dromme sal na verwagting ook help die probleem van katte, honde en voëls wat swartsakke in die straat oopskeur, te minimaliseer. Tydens die oorhandiging het die burgemeester die inwoners gevra om die wieletjiesdromme slegs vir huishoudelike vullis te gebruik.
“Vullisdromme word baie keer gebruik om hout en ander goedere te karwei. Ek wil nie sien hoe word hierdie dromme in George Viljoenstraat gestoot nie,” het sy gemaan. Sy het die inwoners ook aangemoedig om die dromme gereeld skoon te maak en nie warm as, sement, rotse of groot stukke metaal in die drom te plaas nie. Sy het by inwoners gepleit om die dromme op te pas aangesien dit R 2 000 per drom kos om te vervang.
“Ons moes skarrel om geld vir die wieletjiesdromme in die IRDP-behuisingskemas toe te ken. Die behoefte is tydens die IDP-proses geïdentifiseer na aanleiding van die rommel wat oral gestrooi is,” het sy gesê. Arnie Africa, die wyksraadslid van Wyk 8, het die burgemeester vir die dromme bedank en gesê hy is vol vertroue dat inwoners verantwoordelikheid sal aanvaar daarvoor om die buurt skoon te hou. Hy het die inwoners ook aangemoedig om hul dromme met hul adres te merk in ’n poging om te verhoed dat dit gesteel word.Al die dromme is ook gemerk met ’n reeksnommer wat aan die geregistreerde huiseienaar toegeken is sodat dit makliker is om dit te eien indien dit gesteel word.





