Hawston-vissermanne Rushweld Johnson, Matthew “Meppie” Zulu en Jason Appel is ná drie dae met hulle geliefdes herenig nadat hulle vermis was.


Ná drie dae van onsekerheid, vrees en hoop is die drie mans van Hawston wat ter see vermis geraak het uiteindelik veilig en ongedeerd aan wal gebring en met hul geliefdes herenig.

Rushweld Johnson

Rushweld Johnson

“Ek was só bly en verlig toe ek hoor hulle is veilig gekry dat dit gevoel het ek kon huil,” het Mattheüs “Boetie” Zulu Dinsdagoggend gesê.

’n Uitgebreide soektog na Zulu se seun Matthew (“Meppie”), Jason Appel, Rushweld Johnson en nog drie ander is Sondagoggend begin nadat hulle nie van die see af teruggekeer het nie. Jaydy Johnson het vertel sy het die owerhede Sondagoggend gekontak nadat haar man, Rushweld, nie Saterdagaand, soos sy verwag het, huis toe gekeer het nie.

Sy en Zulu se pa het toe na Houtbaai gereis waar hulle deur dié vissersdorpie se strate geloop het op soek na enige inligting oor hul geliefdes, wat Vrydag saam met drie ander mans van Houtbaai op ’n 7,8 m lange vasteromp-opblaasboot (rigid hull inflatable boat) genaamd Berta Fishing Experience by Houtbaai op die see uitgegaan het.

Jason Appel

Jason Appel

Verskeie eenhede, waaronder die polisie se watervleuel en polisieduikers, kommersiële vissersbote en ander rolspelers, het die NSRI bygestaan met die intensiewe soektog suid en suidwes van Kaappunt, waar die mans volgens berigte visgevang het.

Hulle is Maandagaand meer as 80 seemyl suidoos van Kaappunt deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake (DFFE) se patrollieboot Ellen Khuzwayo gered.

Craig Lambinon, die NSRI se woordvoerder, het gesê al ses vissermanne was ongedeerd en gesond.

Zulu was op pad terug na Hawston toe hy kort ná 21:00 die verblydende nuus ontvang het. Zulu en sy seun, sowel as die ander bemanningslede en hul geliefdes, is Dinsdagoggend by die vlootbasis in Simonstad herenig.

“Dit voel goed; ons is baie verlig en baie, baie dankbaar,” het ’n emosionele Jaydy aan Hermanus Times gesê.

Matthew “Meppie” Zulu

Matthew “Meppie” Zulu

Hoewel sy en Zulu tydens die soektog positief was dat hul geliefdes lewend gevind sou word, was hulle tog angstig. “Ons was hoopvol dat hulle sou terugkom, maar ons hande was afgekap,” het sy vertel.

Zulu sê hy was oortuig dat die boot en bemanning gevind sou word omdat al die bemanning “die see goed ken” en hulle op ’n betroubare boot uit was.

“ ’n Rubber duck sink nie sommer maklik nie. Daar was al voorheen ’n geval van manne op ’n rubberboot wat vyf dae later lewend gekry is nadat hul boot onklaar geraak het en deur die wind meegesleur is,” het hy vertel.

Hulle het die gemeenskap vir hul gebede en ondersteuning bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article