Hawston Skrik vir Niks-rugbyklub het bewys dat hulle nie net op die veld uitblink nie, maar ook staatmakers in die gemeenskap is toe hulle op Vryheidsdag warm sop en brood in die gemeenskap uitgedeel het.
“Ons wou terugploeg in die gemeenskap en ons ondersteuners se harte bietjie laat warm klop,” het Bertram Gardiner, die klub se tesourier verduidelik. Ondersteuners het nie net ’n koppie lekker, warm sop geniet nie, maar kon ook hul gunstelingspelers sowel as die klub se bestuurslede ontmoet.
“Ons A-span-kaptein Branden Hunter het selfs kinders wat bietjie skaam was om nader te kom, gaan haal en oor die pad gelei. Dit het ’n mens se hart sommer laat warm klop om te sien hoe opgewonde veral die kinders was om die spelers te ontmoet,” het Gardiner vertel. Hy het Food Lovers Market Hermanus, Kaylin’s Café and Take-aways en Jonathan Bissolati vir hul skenkings tot die dag se verrigtinge bedank.
Die klub bied op 16 Junie ’n jazz-dans met musiek deur die gewilde Elginairs-orkes in die Thusong-saal in Hawston aan. Kaartjies kos R150 en is by Melissa Stewart (081 546 9048) of Alvira Gardiner (082 377 3216) beskikbaar. Volgens Gardiner het die klub ook ’n sakeplan opgestel en beoog hulle om binnekort ’n sake-ontbyt te hou om dit aan ondernemings in die omgewing voor te lê.





