Van die borge en spanlede van Hawston Sekondêr se rugbyspan met die klere wat aan hulle geskenk is.

Die samewerking tussen die gemeenskap, sakeondernemings en die twee skole in Hawston, Hawston Sekondêr en Hawston Primêr, het daartoe bygedra dat leerders van die twee skole sportklere vir hul onlangse toer na George ontvang het. Wat die gebeurtenis nog meer merkwaardig gemaak het, is die feit dat dit die eerste keer is waar die laer- en hoërskool saam getoer het.

Anton Esau, die toerleier, sê min mense verstaan die omstandighede van die gemeenskap. “Dis waarom projekte soos dié belangrik is vir die opbouing van die gemeenskap,” het Esau gesê.

Tydens die verrigtinge wat by Hawston Primêr gehou is, was die opgewondenheid van die ouers en leerders aanvoelbaar. Die raadslid Arnie Africa en die onderburgemeester Elnora Gillion was ook by die oorhandiging van die kleredrag. Die toer is ‘n jaarlikse instelling van Hawston Primêr.

“Tydens ons toer na George het ons eers in Swellendam gestop om rugby, netbal en sokker te speel. Die Saterdag het al die spanne teen ‘n skool in George gespeel. Hierdie jaar was dit teen Parkdene Primêr en George High.”

Die spanne wat deel van die toer was, is die o.11- en o.13-seunsrugbyspanne, die o.13- en o.15-meisiesrugbyspanne, die o.12- en o.13-netbalspanne en die o.13-sokkerspan. “Ons kinders het uiters goed presteer en feitlik alle wedstryde gewen. Hierdie toer beteken baie vir ons kinders en die dorp. Dis vir die meeste kinders ‘n eerste keer. Ons steun swaar op borgskappe. Ek hoop van harte dat meer mense ons in 2026 sal ondersteun. Indien dit nie vir mense soos Voster en Steyn was nie, sou van die kinders nie kon toer nie.

“As Hermanus Whale Cruises en Arnie Africa nie klere geborg het nie, sou ons met verslete klere gespeel het. Sonder die eteborge sou die toer baie duurder gewees het. Ons as onderwysers was moeg, maar dit was lekker om die glimlagte op ons kinders se gesigte te sien. George is mooi en lekker om te verken, maar ons voel dis nou tyd vir die Klein Karoo volgende jaar,” het Esau gesê.

Die toergroep wil graag die volgende borge bedank, wat almal bygedra het tot die toer en die klere: Voster en Steyn Prokureurs, wat 12 leerders finansieel bystaan; en Hermanus Whale Cruises vir die rugbytruie van die meisiesrugbyspanne, die rugbytruie vir die o.13- en die o.19-rugbyspan; Arnie Africa en Elnora Gillion vir die tweede stel truie vir die o.13-meisies en die borg van kouse vir Hawston Sekondêr se meisies-rugbyspan; Zaid Moos vir die gedeeltelike borg van etes en ook die volgende mense vir hul finansiële bydraea: Oscar Fisher, Nicky en Zellie, Robin Panelbeaters, Rodwill en Theunis Gillion, Markie Bouers en Elnora Gillion.

Van die rugbymeisies by hul geborgde truie.
Hawston Primer se rugbyspelers met hul truie

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article