Melody Dean, ’n bekende haarstilis van Gansbaai, het onlangs goud in die Wella Craft Visionary-afdeling gewen.


Sy is ’n held vir menige vrou, en met haar fantastiese oog, talent en kennis, is sy nou beloon vir haar goeie werk.

Melody Dean, ’n bekende haarstilis van Gansbaai, het onlangs goud in die Wella Craft Visionary-afdeling gewen.

“Ek het ook my Master Color Expert-kursus voltooi – stellig die hoogste kwalifikasie in ons bedryf,” vertel Melody.

Melody het letterlik in die bedryf grootgeword en van jongs af het sy gesien hoe word mense se hare geknip, gekleur en gekrul en hartsgeheime oor ’n koppie tee gedeel. “Ek is nou al 26 jaar in die bedryf, het op ’n plaas in Malmesbury grootgeword en ná skool by die Tygerberg-kollege gaan studeer. Ek het my prakties by Bonins-haarsalon in Malmesbury gedoen – dieselfde salon waar my ma gewerk het,” vertel sy trots.

Sy het so 11 jaar gelede na Gansbaai verhuis en haar eie salon in die mooi vissersdorpie geopen.

“Dit was ’n fantastiese jaar vir my en my salon, Visions Styl’n Chic, en ek is baie dankbaar hieroor. Dankie aan al my kliënte en almal wat ons deur moeilike tye ook bygestaan het,” sê sy.

Vir Melody is een mens na wie sy opkyk, Charles Junior Louw.

Charles het bekendheid verwerf met sy televisieprogram op VIA, Red my hare, Junior. Charles Junior Louw is een van die mees gesogte haarstiliste in die land en neem graag vroue met nagmerrie-haarstyle onder hande om vir hulle ’n nuwe voorkoms te gee.

Melody glo daaraan dat geleenthede nie sommer net op jou pad kom nie. “Jy moet werk daarvoor en geleenthede vir jouself skep.”

Haar passie om haar kliënte tevrede te stel, is ook haar stokperdjie. “My passie vir my bedryf is my stokperdjie – ek sien dit nie as ’n werk nie. Om mense goed oor hulself te laat voel en om hulle gelukkig te sien, laat my goed voel,” sluit Melody af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article