Dit is duidelik dat Hermanus-inwoners saamstaan – as dit nie is met leerders wat hulp nodig het om uit te styg nie, is dit met die Hermanus Country Market se uitstallers.
Met die sluiting van die HCM het ondersteuning van oor die hele streek heen ingestroom om dit te verhinder.
Volgens Michael Bayer, eienaar van die HCM, was die ondersteuning oorweldigend.
“Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal se ondersteuning nie. Die mense en sake-eienaars het uit hul pad gegaan om ons te help,” het hy gesê.
Van die besighede wat die uitstallers ondersteun, is onder meer Burgundy’s, Gallery Cafe, Oskars en Bosko-kerk.
“Bosko-kerk het vir ons die geleentheid gegee om tussen 09:00 en 13:00 op hul parkeerterrein handel te dryf. Ons het nog altyd daarop geroem dat ons ’n gemeenskapsmark is, en met al die ondersteuning van die gemeenskap is die stelling bevestig,” het Bayer in ’n Facebook-boodskap gesê.
Volgens hom het hulle ook die gedeelte afgebreek wat nie volgens standaard is nie en gaan hulle alles in hul vermoë doen om seker te maak dat hulle plek maak vir die 30 uitstallers wat nie op die oomblik mag handel dryf nie.




