Die afrigters van Groenberg-jukskeiklub het verlede Saterdag in Hawston kopgekrap om die beste talent vir die Indigenous Games uit te soek.
Die unieke spele gaan eersdaags in Kaapstad plaasvind.
Johan en Alet Theron tesame met Wille Marais, Penny Davidson en Len van Riel het bevind baie van die voornemende jukskeispelers het nog nooit ’n jukskei hanteer nie en moes derhalwe eers basiese onderrig in die sport ontvang.
“Groenberg-jukskeiklub, wat in Sandbaai gesetel is, is reeds geruime tyd besig met ’n opheffingstaak om jong spelers vir die groter jukskeitoernooie voor te berei. Spelers uit alle oorde van die Suid-Afrikaanse samelewing neem reeds aan die jaarlikse nasionale kampioenskap deel, wat elke jaar in Kroonstad plaasvind,” sê Willie Marais, voorsitter van Groenberg-jukskeiklub en die Overberg-jukskeidistrik.
Volgens hom is daar ook reeds gemeld dat Ghana volgende jaar ’n span na die nasionale SA toernooi gaan stuur. Willie neem self op die hoogste vlak deel en beywer hom om jong jukskeispelers uit hierdie streek uiteindelik tot op liga-standaard te ontwikkel.





