Wanneer Danté Abrahams sy veiligheidshelm oor sy kop trek en by die wegspringplek staan, het hy net een doel voor oë – dit is om sy beste te lewer en eerste te eindig.
En dit is presies wat hy tot dusver reggekry het. Dié skrander lid van die Overberg-BMX-klub is ná die SA BMX-bekertoernooi, wat onlangs in Kraaifontein gehou is en waar hy eerste in al sy wedrenne geëindig het, tans eerste in die Wes-Kaap in die beginnersafdeling vir 13-14- jarige ryers.
Danté, ’n gr. 7-leerder aan Mount Pleasant Primêr, vertrek eersdaags na Johannesburg om aan die SA Bekerreeks deel te neem. Daarna sal hy in Oktober in Durban aan die SA Bekerkampioenskap gaan deelneem. Beginners en ervare jaers ding in hierdie renne teen mekaar mee vir ’n “SA nommerplaat”, wat hulle in staat stel om aan internasionale renne deel te neem.
Sam Harman, die sekretaris van die Overberg-BMX-klub, verduidelik deelnemers moet aan minstens ses uit agt renne in die kompetisie-reeks deelneem om vir die kampioenskap te kwalifiseer. Sy kanse om sy SA kleure by die kampioenskap te wen, sê Sam, is baie goed.
“Danté vaar baie goed, is baie toegewyd en werk uiters hard, dus glo ons hy staan ’n baie goeie kans om sy SA ‘nommerplaat’ te kry.
“Ons het ’n hele paar ryers wat gekwalifiseer het om aan die renne in Johannesburg en Durban deel te neem, maar hul deelname hang af van die kostes, wat baie hoog kan wees,” het Sam verduidelik.
Danté se ma, Danielle, sê sy sal alles in haar vermoë doen om te probeer verseker dat haar seun aan albei wedrenne kan deelneem. Die kostes daaraan verbonde is egter ietwat van ’n struikelblok, sê sy omdat dié sportsoort baie duur is.
“Die fietse en veiligheidstoerusting kan ongeveer R24 000 kos, maar gelukkig het ons ’n winskopie gekry en net R9 000 betaal. Dan is daar nog die uitgawes vir sy broek, veiligheidshelm, baadjie en dies meer.
“Vir die wedrenne van 30 Junie tot 2 Julie in Johannesburg het ons minstens R10 000 net vir sy vliegtuigkaartjie, verblyf, registrasiefooie en ander uitgawes nodig. Ons wil ook graag saam met ons seun gaan om hom te ondersteun, en dit sal aansienlik meer kos,” verduidelik sy.
Tot dusver, sê Danielle, het hulle goeie finansiële ondersteuning van plaaslike bouers gekry aangesien haar man ’n bouer is.
“Hoe beter Danté in die sportsoort vaar, hoe duurder raak dit. Ons pleit dat mense hom sal ondersteun sodat hy sy droom om eendag hierdie sportsoort professioneel te kan beoefen, kan bereik,” was haar pleidooi.. Enigeen wat ’n finansiële bydrae wil lewer, kan Danielle by 072 211 1873 bel.





