Die wenspan met hul uitrustings. Agter is Cloé Hendricks, Heloise Havenga, Danie Erasmus, Anneke Pretorius en Jamy-Leigh Cuttings. Voor is Jano Groenewald en Eben Janse van Rensburg.


Die Laerskool Overberg (Klein Ovies) se graad 7-leerders het onlangs hul kreatiewe talente tydens ’n modeparade ten toon gestel – dít op ’n modeparade met ’n verskil, want al die uitrustings is uit herwinbare materiale gemaak.

Elsje Müller van Klein Ovies sê die projek was deel van die graad 7-klas se kuns-assessering. “Die leerders moes eers in hul klaswerkboeke hul eie skeppings ontwerp, waarna ek hulle in groepe opgedeel het en hulle as ’n span moes saamwerk. Die tema was herwinbare produkte,” sê sy.

“Alles, behalwe die rol lint en die kleefband wat ek voorsien het, moes iets wees wat hulle kon herwin. Hulle kon die materiaal van die huis af saambring of by die skool bymekaar maak. Een kriteria was dat elke kind ’n kapsel of hoed op sy/haar kop moes hê.”

Müller sê die leerders het hierdie kwartaal min tyd gehad om hul uitrustings te ontwerp en te maak, maar dat hulle hulself oortref het. “Hierdie is ’n jaarlikse instelling wat ons al die afgelope vier jaar doen. Die modeparade word vir ’n kunspunt gedoen. Dit is driedimensioneel en hulle inkorporeer verskillende elemente en beginsels van kuns met so ’n projek,” sê sy.

Die kleuterskool, Overberg Preprimêr, en die leerders van graad 1 tot 6 is genooi om die modeparade by te woon.

Dr. Marilyn Holloway was een van die beoordelaars wat die wenspan aangewys het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article