As ’n mens aan kwiltwerk dink, dink jy nostalgies aan die fliek How to make an American Quilt, wat handel oor die jong meisie wat voor haar troue koue voete gekry het en om haar kop weer skoon te kry, besoek sy haar ouma en kom agter dat kwiltwerk eintlik terapeuties is.
Petro van Rooyen van Riviersonderend sal hierdie soort “terapie” vir enigeen voorskryf. Dié ma van twee kinders, eggenote en inwoner van die pragtige dorpie langs die N2, is ’n kenner as dit by kwilt- en naaldwerk kom. “Dis ’n heerlike manier om jou kreatiwiteit uit te leef, om net te ontspan en jou eindproduk te bewonder,” vertel Petro.
Petro is op haar gelukkigste wanneer sy omring is deur kwilt-lappies, die reuk van vars koffie en varsgebakte pasteie. Sy vertel dit is seker haar grootwordjare wat die liefde van skep in haar aangewakker het.
“Ek het op ’n plaas buite Riviersonderend grootgeword, getrou en vir lank het ek en my man die Caltex-vulstasie in die dorp besit. Ons was veral bekend vir ons pasteie, en mense kom vandag nog van heinde en ver om van ons pasteie te eet,” vertel sy.
Hulle het die vulstasie vir lank gehad, die dam gebou en alles later aan Caltex verkoop. “Ons het nog lank daarna die vulstasie vir Caltex bestuur, maar later besluit om ons eie winkel in die hoofstraat te begin.”
Daar het sy ook die Quilt Den begin – ’n winkel vol kwilt-lappies, handwerk-geskenkies wat deur die vroue in die dorp gemaak word, ander materiale, wol en selfs ietsie soets om te nuttig terwyl jy deur die winkel loop.
Toe Petro met kwiltwerk begin het, het sy besluit sy gaan haar deeglik in dié soort kunswerk bekwaam.
“Ek het kursusse gedoen om myself meer daarin te bekwaam en ook om kursusse aan te bied. Ek bied kursusse vir beginners en selfs kinders aan, sowel as meer ervare kwilters.
“Verder het ek hande gevat met ’n kwiltgroep in Amerika en ’n kwilt wat ons spesiaal vir hulle gemaak het, is uitgeloot en die opbrengs daarvan het verskeie van ons studente deur hul studies geneem,” sê sy.
Dit is egter haar kwilt-masjien wat deurstikwerk doen wat haar trots is. “Baie mense bring vir my hul kwiltwerk om deurstikwerk te doen. Jy kan deurstikwerk op ’n gewone naaimasjien doen, maar dit is baie moeilik. Die kwilt-masjien maak dit net baie makliker en vinniger.”
’n Mens kan hoor as sy oor haar kwiltwerk praat dat dit een van haar passies is. “Ek geniet kwiltwerk baie en wil graag die wonder daarvan met ander deel. Maar ek doen ander naaldwerk ook, soos kramery (haberdashery). Enigeen is welkom om ’n draai by my winkel te maak; ek deel graag my kennis en help waar ek kan.
“Ek kan ook vir mense deurstikwerk doen en kwilte maak.
“Vandag is dit maklik – jy kan lappies op Facebook bestel, en ek sal dit vir jou pos,” vertel sy.
Mense wat belangstel in kursusse of as iemand deurstikwerk wil laat doen, kan jy Petro by 084 392 1032 bel.





