“ ’n Sterk vrou, ’n vegter, beginselvas en straightforward.”
Dit is een van die maniere hoe ANC-LP Maurencia Gillion, wie Dinsdag tydens ’n werksessie van die nasionale raad van provinsies gesterf het, in een van talle huldeblyke aan haar beskryf word.
Gillion, ’n boorling van Hawston en voormalige burgemeester van die Overberg-distriksmunisipaliteit, was in Kaapstad by ’n strategiese oorsig- en beplanningsessie van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) toe sy skielik inmekaargesak het. Ten spyte van pogings om haar by te bring, is sy later dood verklaar.
Die ANC het in ’n verklaring gesê die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die NRP-voorsitter Amos Masondo en die res van die LP’s wat in die vergadering teenwoordig was, is in skok gelaat.
“Almal van ons is in ’n toestand van hartseer, onbeskryflike skok en pyn,” lui die verklaring. “Niks kon enigeen van ons hierop voorberei het nie. Om ’n lid van parlement te verloor, is baie hartseer, maar om haar op hierdie manier te verloor, is ontstellend.”
Gillion het die Wes-Kaap op die nasionale raad van provinsies verteenwoordig en verskeie ander poste in die ANC beklee. Sy het onder meer van 2011 tot 2015 as die ANC se provinsiale adjunksekretaris en van 2015 tot 2019 as die party se provinsiale tesourier gedien.
Ten spyte van haar werksverpligtinge op provinsiale en nasionale vlak het Gillion haar steeds ontferm oor inwoners van Hawston se lot. Na aanleiding van ’n jong man se grusame moord en ’n jong vrou se wrede aanranding en verkragting oor Desember, het Gillion in Januarie tesame met ander politieke- en kerkleiers van die dorp ’n optog gereël om misdaad aan te spreek.
Rugene Dees, ACDP-raadslid in die Overstrand, wat saam met Gillion die optog gereël het, sê Gillion se skielike dood het talle mense spraakloos gelaat.
“Haar hart het vir die mense geklop. Ons weet hoeveel sy vir haar familie, die gemeenskappe wat sy gedien het, haar ANC-comrades en vriende beteken het. Ons bid vir vrede en vertroosting vir haar familie in hierdie moeilike tyd,” het Dees bygevoeg.





