Dr. Fanie du Plessis (beter bekend as “Die Skim”) was ’n legendariese inwoner van Bredasdorp en vir 58 jaar was sy bruin Toyota-bakkie ’n bekende gesig in die omgewing.
Menige leerder van die Hoërskool Bredasdorp het die voorreg gehad om deur dié gesoute rekeningkunde-onderwyser onderrig te word. Vele leerders wat nog tik as vak gehad het, is ook deur sy bekwame hande.
Du Plessis het in 1965 as onderwyser by die Hoërskool Bredasdorp aangesluit en was nog tot in 2005 as ’n deeltydse opvoeder by die gr. 12’s se rekeningkunde betrokke.
Hy het ook as koshuisvader talle BD’s se lewens verryk en juis daarom deel hulle steeds graag staaltjies oor hul geliefde Skim.
Nadat die skool op sy Facebook-blad die nuus gedeel het dat Du Plessis en sy vrou, Rina, hulle eersdaags op Douglas gaan vestig, waar hul dogter woon, het talle oud-leerders op die skool se Facebook-blad hulde aan hom gebring.
Johann Jordaan het geskryf: “Vir seker een van die heel beste onderwysers.”
Jaco Odendaal: “Vaarwel Skim! Laat dit goed gaan daar in die vreemde. Dankie vir Mnr se invloed op my loopbaankeuse.”
Celynn Wyngaard: “Gaan sy geselsies en grappies baie mis.”
Jeanette Viljoen: “ ’n Legende groet Bredasdorp! Mooi loop!”
Carike Els Bruwer: “Beste onderwyser nog. Tik en rekeningkunde by hom gehad. Sy spore lê diep in my hart.”
Corlene du Randt: “Een van die beste onderwysers nog! Sal altyd een van my gunstelingmense bly. What a legend! Mooi loop, Mnr Skim.”
Marlinda Bester: “Fantastiese rek-onderwyser. Altyd ’n staaltjie vertel om ’n boodskap oor te dra of ’n som te verduidelik.”
Die skool het die paartjie voorspoed toegewens met die nuwe hoofstuk in hul lewe en gesê: “Die Hoërskool Bredasdorp is opreg dankbaar vir die insette van hierdie opvoeder in murg en been.”





