In Hermanus Times van 7 September 2022 (“Ken jou dorp: Denzil Jacobs”) is berig oor raadslid Denzil Jacobs, die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) se eerste gestremde raadslid, en oor hoe hy met ywer sy werk in ’n rolstoel verrig.
’n Jaar later, Dinsdag 19 September, het die TWK-burgemeester, Mary Liebenberg, en die TWK- munisipale bestuurder, Wilfred Solomons-Johannes, ’n spesiaal aangepaste voertuig vir Jacobs se gebruik bekend gestel.
By die bekendstelling het Solomons-Johannes gesê almal se uitdagings moet in ag geneem word.
“Raadslid Jacobs doen wonderlike werk in sy gemeenskap en ons het gevoel ons moet hom bystaan. Ons het ’n versoek aan minister Anton Bredell gerig vir ’n aangepaste voertuig. Die versoek is toegestaan, mits dit binne die begroting bly,” sê Solomons-Johannes.
Die aflewering van die voertuig is aanvanklik vertraag, want ’n gespesialiseerde bedryfsmeganisme – die eerste van sy soort in die land – moes ingevoer word. Jacobs sal nie self die motor bestuur nie, maar kan in sy rolstoel met ’n oprit tot agter in die paneelwa ry.
Die burgemeester het genoem dit is vir haar ’n eer en ’n voorreg om die motor aan een van die hardwerkendste mense wat sy al teëgekom het, te oorhandig.
Jacobs het aan Hermanus Times gesê: “Dit was ’n moeilike reis tot dusver, want ek moes op my eie in my rolstoel beweeg en was afhanklik van ander om my by vergaderings ensovoorts te kry en om my in en uit motors te tel. Ek glo ek sal nou meer dinge bereik – nie net in my wyk in Grabouw nie, maar in die hele TWK waar ek nou na verskillende dorpe kan ry om te sien wat die behoeftes van gestremdes is. Ek is baie bly dat die raad ’n verskil kan maak en dat mense kan sien mense met gestremdhede word nou ingesluit. Maar bo alles wil ek dankie sê aan ons Hemelse Vader. Ons moet nooit vergeet wat die Here kan doen nie,” sê Jacobs.
Die TWK het by dieselfde geleentheid ook verskeie nuwe voertuie gekry, wat twee bakkies, ’n watertenkwa, ’n kersieplukkervragmotor en ’n kompakteerder ingesluit het. Die kompakteerder is deur die departement van landbou, bosbou en visserye aan die TWK geskenk.





