Twee mans is in hegtenis geneem nadat ’n gesteelde vuurwapen in hul besit gevind is. Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die sukses is te danke aan goeie samewerking van die Hermanus-polisie en beamptes van die Overstrand-wetstoepassingseenheid. “Die beamptes het Woensdag 7 Junie inligting opgevolg oor ’n vuurwapen wat moontlik by ’n huis in Mountainrylaan, Hawston, gevind kon word. Met die polisie en ander wetstoepassers se aankoms, het hulle ’n voertuig op die perseel deursoek. Hulle het op ’n 6.35-Astra-pistool in die voertuig afgekom,” het September gesê. “Die vuurwapen se reeksnommer is nagegaan en die polisie het bevind dit in 2002 in Brackenfell gesteel is.” Die vuurwapen is vir ballistiese toetse gestuur om te bepaal of dit in enige misdade gebruik is. Twee verdagtes, onderskeidelik 34 en 45 jaar oud, is in hegtenis geneem en van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie aangekla.


Gesteelde vuurwapen teruggevind

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article