Lede van die nasionale intervensie-eenheid het vyf verdagtes in hegtenis geneem nadat ’n vuurwapen, wat in die Oos-Kaap as gesteel aangemeld is, in hul besit gevind is. Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die polisiebeamptes het Maandag 19 September omstreeks 22:30 op die R43 in die rigting van Kaapstad gery toe hulle ’n verdagte voertuig gesien het. “Die beamptes het ’n dubbelkajuit-Triton-bakkie gewaar wat roekeloos gery het. Hulle het die voertuig voorgekeer en dit met die insittendes se toestemming deursoek. Die vuurwapen was agter ’n sitplek versteek. Die lede het op die z88-pistool, een magasyn en ammunisie beslag gelê. Vier mans en ’n vrou tussen 34 en 50 jaar oud is in hegtenis geneem,” het September gesê. Die verdagtes het reeds in die Hermanus-landdroshof op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie verskyn. “Borgtog is teengestaan,” het September bygevoeg. Die polisie het bevestig dat die vuurwapen vroeër in die Oos-Kaap as gesteel aangemeld is.


Gesteelde pistool gekry

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article