Die Fitness Forever-fiksheidsinstrukteur Marc de Jongh bied elke Saterdag van 09:00-12:00 ’n program getiteld Health Talk op AfriKaap-radiostasie aan.


Sy passie om veral vroue se fiksheid en gesondheid te bevorder, het meer as 16 jaar gelede begin.

In dié tyd het Marc de Jongh nie net persoonlike fiksheidsklasse aangebied nie, maar ook die afgelope drie jaar vir Hermanus Times berigte geskryf en kort video’s oor fiksheid gemaak. Nou spog dié fiksheids-fanatikus ook met sy eie drie uur lange radioprogram, getiteld Health Talk, elke Saterdag op die AfriKaap-radiostasie.

Sy suksesverhaal, vertel Marc, word deur sy passie om mense oor die belang van fiksheid en gesonde leefstyl-gewoontes op te voed, gedryf.

“My motto is ‘Educate, rehabilitate and empower’, dus fiksheid en gesondheid, en om hierdeur die lewe van mense in minderbevoorregte gemeenskappe te verbeter.

’n Gesonde leefstyl word dikwels hier op die back burner geplaas as gevolg van sosiaal-ekonomiese uitdagings, maar dit was nog altyd my passie,” verduidelik hy.

In sy artikels en video’s spreek Marc belangrike gesondheidskwessies soos diabetes, hoë bloeddruk en artritis aan en demonstreer oefeninge wat mense kan help om hul mobiliteit te verbeter.

Hy fokus veral op die voordele wat gesonde eetgewoontes en gereelde oefening inhou.

Marc vertel hy wil graag die jeug inspireer om nooit hul drome te laat vaar nie en nooit hul passie vir enigiets waarin hulle met oorgawe glo, te verloor nie.

“Jy kan jou passie in ’n suksesverhaal omskep en ’n geleentheid om ’n verandering te maak – nie net in jou eie lewe nie, maar ook in ander se lewe.”

Besoek https://radio.garden/listen/afri-kaap-radio/zpNEGTWh Saterdae tussen 09:00 en 12:00 om op die program in te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article