Gerugte doen die ronde dat Zhandré Jacobs in Italië in hegtenis geneem is.


Sosiale media het verlede week behoorlik gegons nadat ’n berig in ’n plaaslike koerant verskyn het oor gerugte dat Zhandré Jacobs, wat in Julie 2021 in Kleinmond verdwyn het, in Italië in hegtenis geneem is.

In dié berig is daar geen details oor presies waar en wanneer Jacobs in Italië na bewering in hegtenis geneem is nie, maar dit meld dat nog ’n persoon saam met hom aangekeer is.

Adjudant-offisier Martin Mostert, woordvoerder van die Kleinmond-polisie, het bevestig dat die polisie van die gerugte bewus is, maar nie kan bevestig of daar enige waarheid in steek nie.

“Die provinsiale misdaad-intelligensie-eenheid sal met Interpol in verbinding tree om dit te bevestig,” het Mostert verduidelik.

Indien daar bevind word dat Jacobs wel in Italië in hegtenis geneem is, sal hy eers daar in die hof moet verskyn voordat ’n aansoek gebring kan word om hom aan Suid-Afrika uit te lewer.

Jacobs is op 6 Junie 2021 laas by ’n winkel in Kleinmond gesien. Sy Ford Eco Sport is kort ná sy verdwyning by Palmiet-dagkampeerterrein gevind. Sy sleutels, beursie en selfoon is in die voertuig gevind. Ten spyte van ’n uitgebreide soektog was daar geen spoor van die jong pa nie.

Die polisie het ná sy verdwyning bevestig dat ’n saak van bedrog ondersoek word ná bewerings dat Jacobs wat by ’n plaaslike bank gewerk het, groot bedrae geld van ’n plaaslike onderneming gesteel het.

Hermanus Times het sy vrou vir kommentaar probeer bereik, maar het geen terugvoering gekry nie.

Jacobs se ouers, Hansie en Sophie Jacobs, het aan Rapport gesê hulle het die gerugte oor hul seun op sosiale media gesien en wag nou in spanning om te hoor of daar wel enige waarheid in steek.

Die familie het by navraag aan Hermanus Times gesê hulle sal in ’n latere stadium met die koerant praat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article