Om ’n gesonde lewe te lei, het reeds in Oktober 2021 vir Gertjie Fourie begin.
Maar, hy wou meer doen, en dit is waarom dit vir dié inwoner van Sandbaai ’n baie maklike besluit was om vir VIA se nuwe televisiereeks Die Groot Afskud, wat Dinsdag 24 Januarie begin het, in te skryf.
Fourie is saam met vyf ander deelnemers in twee spanne opgedeel. Die span wat die meeste kilo’s afskud, wen prysgeld van R300 000.
Om die deelnemers op hul pad te help, werk hulle saam met ’n fiksheidsafrigter, sielkundige en dieetkundige.
In die eerste episode van die program het Fourie 228 kg geweeg. Ná net twee weke se harde werk en toewyding het hy altesaam 8 kg afgeskud, wat sy gewig tot 220 kg laat daal het.
Fourie sê dié gewigverlies was vir hom ’n bietjie van ’n skok, “maar dit wys dat die programme werk”.
Die Groot Afskud-reis was nie altyd vir Fourie maklik nie. “Maar terselfdertyd het ek nie opgegee nie en ek het aangehou. Dit is iets wat ek weer sal doen. Dit was die moeite werd en ons het almal soos familie geword,” vertel Fourie.
Volgens die vervaardiger, Nicole Bailey, gaan Die Groot Afskud oor baie meer as net gewigsverlies.
“Dit ontleed menslike stories van dinge wat ons terughou – traumas uit die verlede, negatiewe oorlewingstegnieke en hoe om ons perspektiewe te herstruktureer om ’n lewe te skep waarvoor ons lief is,” voeg sy by.
Fourie moedig mense aan om ’n gesonde leefstyl te volg om sodoende jouself te verbeter.
“Dit is soos enigiets in die lewe – doen dit stap vir stap en bietjie vir bietjie. Dit is belangrik om daardie eerste stap te neem om ’n verskil in jou lewe te wíl maak. Moenie opgee nie.”





