Loukmaan en Emo Adams is in Two of a kind te sien.


Om die mondigwording van die Suidoosterfees te vier, is daar nie net topproduksies nie, maar ook musiek uit die boonste rakke.

Soos in die verlede, spog die Suidoosterfees se musiekprogram met Suid-Afrika se voorste kunstenaars.

Onder diegene wat vanjaar kom help kersies uitblaas, is Nataniël, Babalwa Mentjies, Coenie de Villiers, Early B, André Schwartz, Lynelle Kenned, Elzabé Zietsman, Corneil Müller, Frazer Barry, Selim Kagee, Sima Mashazi, Edith Plaatjies, Nic Miso, Madeegha Anderson, Jawaahier Petersen, Jonathan Rubain, Emo en Loukmaan Adams, Kaapstad se Operakoor en Filharmoniese Jeugorkes asook die stad se Simfonieorkes.

Aanskoulike konserte en produksies in verskeie genres word aangebied, van opera en klassieke musiek tot kontemporêre musiek, gospel en kabaret.

Coenie de Villiers en Deon Meyer span weer kragte saam, dié keer met die musiekblyspel Roem.

Groot konserte ter viering van die fees se 21ste is op die Artscape-Operahuis-verhoog, onder meer 21, Operagala en Suidoosterfees Boogie. In dié musiekkonserte tree beroemdes op saam met jong musieksterre wat die afgelope twee dekades hul talente met deelname aan die Suidoosterfees se opleiding- en ontwikkelingsprojekte geslyp het.

Emo en Loukmaan Adams is in Two of a kind, die Universiteitskoor Stellenbosch is vir die tweede keer op die feesverhoog, en die sterre van kykNET se Suidooster kom wys weer hul slag in die musiekproduksie Suidooster Stormsterk. Burger King, wat die afgelope klompie jare betrokke geraak het by die fees se ontwikkelingsinisiatiewe, is vanjaar teenwoordig met die Burger King Konsert van hoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article