Maak jou eie jaffels op die vuur. Foto: Lise Beyers


As daar nou een kosmaak-apparaat benewens ’n braairooster en ’n driepootpot is wat moet saamgaan wanneer jy kampeer, is dit die beskeie jaffelpan.

Dit is daardie ou stewige ysterpan­netjie wat bykans geen pakplek opneem nie en slegs twee snye brood benodig om ’n heerlikheid oor die kole mee op te tower – en dit vir die kinders pret maak om te help.

“So ’n jaffel-braai herinner my baie aan my pizza-maak-kuiers saam met vriende, met allerlei bakkies vol kaas, vleise, seekos en groente,” sê Lise Beyers van die Paarl. “Almal kry dan hul beurt om hul eie skepping op die dun uitgerolde deegsirkels te maak wat dan in die pizzaoond gebak word.”

Danksy die nederige jaffelpan kry oorskiet-potjiekos nuwe lewe wanneer dit die volgende dag in goudbruin boepensbroodjies omgetower word. Jaffels is uiters geskik as ontbyt.

Vul dit met gebraaide spek, sampioene, roereiers en kaas – net die ding om jou reg te kry vir die dag wat voorlê.

Fyngesnyde oorskiet-braaivleis maak ook ’n baie lekker jaffel-vulsel.

“Dus is die jaffelpannetjie vir my ’n moet om enige vuur – of dit ’n knetterende Bosveld-braai is, of sommer in die gerief van jou kaggel tuis,” sê Lise.

Kerrie-jaffels

Wat jy benodig

8 snye brood

olie

1 middelslag ui, in ringe gesny

400 g maer maalvleis

2 t fyngemaakte vars knoffel

sout en peper

¼ t fyn koljander

¼ t fyn komyn

½ t borrie

½ blikkie gekapte tamaties met sous

1 e tamatiepasta

botter

Maak só

Verhit ’n potjie oor die vuur. Voeg die olie en uie by en braai vir ’n paar minute. Voeg die maalvleis by en verbruin effens daarby. Meng die speserye en knoffel hierby. Braai vir ’n paar minute.

Dan kom die gekapte tamaties en tamatiepasta by. Geur met sout en peper na smaak en laat die potjie vir sowat 20 minute oor matige hitte prut. Roer elke nou en dan.

As die vleis ’n bietjie droog lyk, voeg ’n knertsie bier of water by, maar die kerrie moenie te souserig wees nie.

Haal die potjie van die hitte af en laat dit afkoel voordat jy jou toebroodjies pak.

Smeer botter aan die buitekant van jou brood en versprei die kerriemengsel oor die skywe.

Maak toe met nog ’n sny brood wat ook gebotter is. En dan is dit kole toe totdat die jaffels mooi goudbruin is.

Smelt-in-die-mond tuna-jaffels

Wat jy benodig

8 snye brood

1 blikkie tuna

1 klein ui, fyngekap

1 t mosterd

1 t vars dille

1 t vars grasuie

1 t suurlemoensap

½ koppie mayonnaise

1 koppie gerasperde kaas

’n paar agurkies, in ringe of repe gesny

Sout en peper na smaak

Tabasco (opsioneel en slegs vir die brandbekke)

Maak só

Meng al die bestanddele behalwe die brood en agurkies – dus die tuna, mayonnaise, mosterd, dille, grasuie, suurlemoensap, ui, kaas, sout en peper, en Tabasco (indien gebruik) – goed saam om die vulsel te maak.

Verdeel die mengsel oor vier snye brood wat aan die buitekant met botter gesmeer is.

Plaas die gesnyde agurkie (ringe of repe) hieroor en sit dan nog ’n sny brood daarop. Nou gaan die broodjie pannetjie toe.. Lise Beyers is ’n kranige braaier. Sy is ook streekredakteur van Paarl Post sowel as Worcester Standard en Gazette.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article