Die gemeenskap se vinnige optrede het verseker dat ’n gesin wat in die moeilikheid beland het terwyl hulle hul nuwe skiboot wou uittoets, veilig aan wal gebring is.Foto: Anneri Carstens


Wat in ’n tragedie kon ontaard, het in ’n wonderlike skouspel van samewerking geëindig danksy individue, sakeondernemings en organisasies wat saamgestaan het om ’n gesin wat ter see in die pekel was, veilig aan wal te bring.

As dit nie vir Bomkazi Joyce Ndlazi, ’n veiligheidswag van Eagle Sekuriteit, se oplettendheid en vinnige optrede was nie, kon dinge anders uitgedraai het.

Joyce was op 29 Mei omstreeks 18:00 aan diens toe sy die skiboot, wat net buite die Gansbaai-hawe in nood verkeer het, gewaar het. Sy het dadelik Eagle Sekuriteit se beheerkamer oor die situasie ingelig. Amelia Pietersen, wat in die beheerkamer aan diens was, het kapelaan Mark Robson van die 1Life-reddingsdienste ontbied.

“Dis die oomblikke waarvoor ons lewe. Alles is doodstil en dan die adrenaline rush met daai een oproep,” het sy agterna gesê.

Bomkazi Joyce Ndlazi van Eagle Sekuriteit se oplettendheid het die reddingspoging begin.

Anneri Carstens, die eienaar van Eagle Sekuriteit, vertel sy het na die hawe gejaag om die situasie saam met haar span, onder andere Henk Lourens, Jacques Rooi en Masxole Shasha, te monitor.

“Ons was aanvanklik bang die boot is aan die sink,” het Mark gesê. Hy het toe die NSRI-Hermanus en die OMR-ambulansdiens ontbied terwyl hy ook Gansbaai-hawe toe gejaag het om indien nodig hulp en bystand te verleen.

Onbekende helde

Die helde van die dag, vertel Mark en Anneri, was egter ’n onbekende man wat met sy kajak na die boot geroei het en twee ander, wat net as Edward en George geïdentifiseer is, wat met hul skuit uitgevaar het om hulp te verleen.

“Henk (Lourens) het vinnig gedink en Edward Jones en George gevra om met hul skuit hawe toe te gaan,” het Anneri gemeld. “Hulle was binne minute daar.”

Dié helde het ’n tou na die mense op die skiboot gegooi en hulle só na veiligheid in die hawe getrek.

“Dit was ’n paartjie en hul kinders wat hul nuwe boot wou uittoets toe hulle in die moeilikheid beland het,” sê Robson. “Niemand is beseer nie.”

Al die rolspelers se vinnige optrede, sê Robson, was deurslaggewend.

“Dit is wat die Overstrand so spesiaal maak – almal staan saam om mekaar te help. Toe ek in die hawe aankom, het die gesin al opgepak en huis toe gegaan. Die NSRI, wat toe nog na Gansbaai onderweg was, het die voorval as oefenlopie gebruik.”

Anneri het bygevoeg: “Ek is trots op almal. Ons werk lekker saam. Ons ken mekaar al jare. Jy gaan net in ’n ander rat in. Dit maak Gansbaai lekker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article