Louisa Maria Kinniar, ‘n geliefde en gerespekteerde inwoner van Caledon, is op 28 Desember in die ouderdom van 93 jaar oorlede.
Tannie Louis, soos almal haar genoem het, is op 21 Mei 1932 as ‘n nooi de Waal in Riebeek-Wes gebore. Weens omstandighede moes Tannie Louis die skool vroeg verlaat, waarna sy by ‘n klerefabriek in Kaapstad gewerk het. Sy het haar man, Pieter Kinniar, in Kraaifontein ontmoet en hulle is op 17 Desember 1954 getroud. Van Kraaifontein is die Kinniars na Genadendal en daarna na Caledon, waar Tannie Louis vir 56 jaar tot haar afsterwe in dieselfde huis gewoon het. Oom Pieter, ‘n polisiebeampte, het haar reeds jare gelede ontval. Sewe kinders is uit die huwelik gebore, van wie twee reeds oorlede is.
“My ma was die gom wat die familie bymekaar gehou het. Sy was eintlik superglue,” sê haar dogter Sharon Cookham. “Sy was ‘n diep gelowige mens en het nie net vir haar familie omgegee nie, maar ook vir die gemeenskap. Sy was tough. Dit maak nie saak wat oor haar pad gekom het nie; sy’t daaroor gebid. Sy was ‘n biddende vrou met saans as haar stiltetyd. Sy het haar Christelike eienskappe werklik uitgeleef. Ook was sy baie nederig en vergewensgesind. Sy het nooit iets teen mense gehou nie en het het nie ‘n geskindery verdra nie.
“Sy was ‘n baie liefdevolle ma en het ons met net haar stem op ons plek gesit. Sy was ook ‘n baie vrygewige mens en het graag die bietjie wat sy gehad het, met ander gedeel. Ons is nooit daar weg sonder ‘n botteltjie konfyt of ingelegde vrugte nie, gemaak van produkte uit haar tuin. Haar tuin was ‘n plek waar sy kon rustig raak, selfs al het sy soms op ‘n ou boomstomp gesit. Klein dingetjies het haar vreugde gegee, soos om ‘n foto van ‘n strelitzia te neem en vir my aan te stuur, of om te vertel hoe heerlik sy nou aan ‘n soet perske uit haar tuin gesmul het,” sê Sharon.
Draf langpad met bus kaf
Sharon noem ook dat haar ma gereeld per bus vir haar en haar familie in Welkom kom kuier het. “Sy het op 92-jarige ouderdom nog alleen die busreis onderneem, maar die daaropvolgende jaar het sy lekker gelag en gesê as die busbestuurder haar nóú sou sien, sou hy haar gewis nie opgelaai het nie. Sy het ‘n wonderlike sin vir humor gehad.”
Tannie Louis het graag oudhede op veilings gekoop. Haar geheue was vlymskerp en sy kon presies sê wat sy waar en wanneer gekoop het. Tydens gesprekke het haar sin vir humor gereeld opgevlam en het sy geskater van die lag. Sy het dikwels gesê: “Dié ou lyf wil nie meer nie, maar daar’s niks verkeerd met my mond en stem nie.”
Tydens ‘n besoek aan Tannie Louis ‘n paar jaar gelede het sy ‘n heerlike storie aan Hermanus Times vertel: “Ons kerk het basaar gehou en ek het ‘n koek vir die basaar gebak. Die koek het regtig nie goed uitgekom nie, maar ek het hom basaar toe geneem en tot my man se ergernis het ek self die koek gekoop. Ek het aan hom verduidelik dat ek regtig nie kon toelaat dat iemand daardie koek koop nie.” Tannie Louis se bakvernuf het met die jare baie verbeter – soveel so dat sy gereeld pryse vir haar gebak by skoue gewen het.
Tannie Louis het aan verskeie Christelike organisasies en groepe behoort, waarvan veral die CAB (Christelike Afhanklikheidsbediening) haar na aan die hart gelê het. Norman Cupido, die voorsitter van die Caledon-tak van die CAB, sê: “Die Caledon-tak is in 1987 gestig en Tannie Louis was van die begin af ‘n lid. Sy het in 38 jaar nooit ‘n vergadering of byeenkoms gemis nie. Wanneer ons iewers heen gereis het, was Tannie Louis altyd eerste om haar reisgeld te betaal. Die afgelope paar jaar het ons die CAB-vergaderings by haar huis gehou. Kort voor haar afsterwe het sy nog daarop aangedring dat ons die afskeidsgeselligheid moet hou, wat ons toe op 22 Desember by haar aan huis gehou het. Ons het melktert – haar gunsteling – en sjokoladekoek geneem en ‘n heerlike afskeidspartytjie gehad.”
Ds. Gerome Haupt, leraar van Caledon VGK, sê in sy huldeblyk: “Anty Louis, soos sy in die Verenigende Gereformeerde Kerk Caledon bekend gestaan het, was een van ons oudste lidmate in die gemeente. Slegs twee van die gemeente se lidmate, Anty Pilla Julies (100) en Anty Mattie Sepember (101), albei van Tesselaarsdal, was ouer as sy.
“Ek het Anty Louis met my en my vrou se aankoms in Caledon op 17 Julie 2004 die eerste keer ontmoet toe sy gevra is om die pastorie se sleutel aan ons te oorhandig.
Geestelike reun in Caledon-VGK
Anty Louis was op haar nederige beskeie manier ‘n geestelike reus in die gemeente. Haar geestelike lewe herinner aan die woorde wat in Lukas 2:37 oor die profetes Anna opgeteken is – dat sy nie weggebly het van die tempel nie en God dag en nag met gebede gedien het. Met haar getrouheid aan die Here het Anty Louis aan elkeen ‘n navolgenswaardige voorbeeld gestel. Sy was lief vir die Here en haar lewe het dit bewys.
“Sy was lid van verskeie verenigings van die gemeente, onder meer die CAB, die Christelike Vrouebediening (CVB), het in haar jonger jare op die kerkraad gedien, was lid van die gemeente se getuienisbediening asook van die gebedsgroep. Haar rustige geaardheid en die wysheid waarmee sy gepraat het, was vir elkeen ‘n bron van inspirasie. ‘n Seder het inderdaad in die gemeente geval, soos dikwels verwys word na iemand wat ‘n onmeetbare positiewe verskil in die gemeenskap en kerk gemaak het. Ons eer Anty Louis Kinniar se nagedagtenis.”
Twee jaar gelede het Tannie Louis aan Hermanus Times gesê: “Die Here was goed vir my vandat ons hier in Caledon kom woon het, maar nou leef ek op genadejare.”
Die genadejare se uurglas het nou leeggeloop. Rus in Vrede, Tannie Louis.
• Tannie Louis word oorleef deur twee seuns – Peter en Willie Kinniar – en drie dogters – Lorraine Latier, Adriana Petersen en Sharon Cookham – asook 12 kleinkinders en 21 agterkleinkinders.





