Die onverwagse dood van Rian Theunissen (58) op 30 April het familie, vriende en die gemeenskap van Caledon met ’n gevoel van ongeloof, skok en hartseer gelaat.
Rian Carl Theunissen is op 4 Augustus 1965 in Caledon gebore. Ná sy polisie-opleiding het hy in Bredasdorp en Greyton gewerk. Nadat hy uit die polisie bedank het, het hy saam met sy broer ’n huisinstandhoudingsdiens gelewer.
Sy vrou, Anne, met wie hy 30 jaar getroud was, sê: “Rian was ’n vaderfiguur vir almal en hy was ontsettend lief vir al sy kleinkinders. Hy het baie graag grappe gemaak, maar was ook baie positief. Hy was ’n baie straight forward mens en as hy ’n ding vir iemand wou sê, dan het hy dit gesê.
“Hy was ’n mensemens,” sê Anne. “Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy was lief vir kosmaak en het baie in die huis gehelp. Hy het vir ons uit sy pad uit gegaan. Hy was altyd bedrywig en het graag sy medemens gehelp. Hy het vir jare mense vir hospitaalbehandeling na ander dorpe aangery,” sê Anne.
Anne noem Rian was baie lief daarvoor om al vroegoggend na elke sportuitsending moontlik te kyk. Hy was ook baie lief vir lees.
Melanie Fisher sê van haar oom: “Hy was my go-to persoon. Hy was soos ’n pa vir my en soos ’n oupa vir my kinders. Hy laat ’n verskriklike groot leemte.”
Rian was in sy jonger dae ’n kranige rugbyspeler wat flank vir die destydse Vlei Standards en Caledonians gespeel het. Sy liefde vir rugby het nooit getaan nie en hy was een van Caledon-rugbyklub se grootste ondersteuners. Hy het elke wedstryd bygewoon, of dit op die tuisveld was of ’n wegwedstryd.
Heindrich Wyngaard, waarnemende voorsitter van die Caledon-rugbyklub, sê: “Die Caledon-rugbyklub vier hierdie jaar sy 30ste bestaansjaar. Dit is ’n jaar waarin ’n mens dink aan feesvieringe en die goeie dae onthou. Jy beplan nie vir begrafnisse nie en dan ontval een van jou getrouste, mees lojale, bekendste en geliefste ondersteuners jou. Iemand wat ook ’n voormalige speler was, soos wat in hierdie geval gebeur het met Rian.
“Van die Caledon-rugbyklub se kant af onthou ons hom as ’n lid van die beroemde, bekende Theunissen-broers wat elkeen op hul eie manier diep spore getrap het in die opbou en lewend hou van die rugbytradisie in Caledon en spesifiek in die gemeenskap van Bergsig, waar ons steeds met soveel uitdagings sit en waar sport vir baie jongmense die enigste ontvlugting is,” sê Wyngaard.
“Op ’n persoonlike vlak sal ek altyd die vriendelike man wat skerts, wat met almal ’n grappie maak, onthou. Iemand wat ek nog nooit gehoor het iets negatiefs sê oor enigiemand nie. Iemand wat ten spyte van alles en al die uitdagings ’n lojale ondersteuner van die klub gebly het,” sê Wyngaard.
Wyngaard het tydens die begrafnis die geraamde ondersteunershemp wat Rian bestel het maar nie kon afhaal nie, aan Anne Theunissen oorhandig.
Die voorblad van die begrafnisbriefie is saam met die hempie geraam met die woorde Next Level Callies Supporter onderaan. Rian word oorleef deur sy vrou, twee seuns, twee dogters, nege kleinkinders, sy broers Essie, Willem en Randall Theunissen en suster Deanna Ruiters. Die begrafnis was Saterdag 11 Mei in die Swartberg Primêr-skoolsaal.





