Tannie Anna Badenhorst, ’n bekende en geliefde inwoner van Caledon, wat verlede Woensdag (24 Julie) verjaar het, het haar 80ste op luisterryke wyse ’n paar dae voor haar verjaardag by Die Woud, net buite Caledon, gevier.
Altesaam 136 familielede en vriende het dié besondere mylpaal Saterdag 20 Julie saam met tannie Anna gevier. Baie van die gaste kom al ’n lang pad saam met haar – sommige van skooldae af.
Verskeie sprekers het hulde aan tannie Anna gebring. Hulle het van haar jong dae in Calitzdorp vertel, asook hoe sy en haar oorlede man, James Badenhorst, saam hul onderneming in Caledon opgebou het. Sommige stories het die gaste én tannie Anna laat skaterlag.
Al die gaste het ook heerlik aan ’n smullekker driegang-middagete weggelê.





