Inwoners van Blompark, wat Vrydag by die hof was om Ricardo Tobias, wat in Maart grusaam vermoor is, se familielede te ondersteun.

Twee groepe Gansbaai-inwoners was Vrydag by die Hermanus-landdroshof – die een groep om die familie van Ricardo Tobias, wat in Maart grusaam vermoor is, te ondersteun en die ander om die beskuldigdes in die saak te ondersteun.

Tobias, wat as kelner by ‘n plaaslike restaurant gewerk het, se dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur – veral aangesien die moord so wreed was. Sy verminkte liggaam is die oggend op 24 Maart op die hoek van Bloulelie- en Angelierstraat in Blompark, Gansbaai, ontdek. Volgens berigte het hy verskeie steekwonde gehad en ‘n groot sementblok is op sy kop gegooi.

Inwoners het ‘n week ná Tobias se moord aan ‘n vreedsame optog deelgeneem en ‘n memorandum waarin meer sigbare polisiëring en strenger polisieoptrede geëis word, aan die plaaslike polisie oorhandig.

Twee jong mans van Gansbaai, onderskeidelik 18 en 21 jaar oud, is kort daarna weens die moord in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Volgens John Jacobs, ‘n plaaslike gemeenskapsleier, was hulle Vrydag by die hof om Ricardo se pa, Hasie Tobias, tydens die verdagtes se borgtogaansoek te ondersteun. ‘n Petisielys, waarin inwo-

ners van Blompark eis dat die beskuldigdes nie op borgtog vrygelaat moet word nie en dat geregtigheid moet geskied, is ook by die hof ingedien.

Volgens Jacobs lewe hy in vrees omdat hy by verskeie geleenthede dreigemente ontvang het waarin gemeld is dat hy deur bendelede geskiet sal word indien hy nie ophou met sy optrede om geregtigheid in verband met Ricardo se moord te eis nie.

Die saak teen die twee moordbeskuldigdes is tot 3 Oktober uitgestel omdat een van die beskuldigdes se prokureur nie by die hof was nie. Die beskuldigdes bly tot dan in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article