Jolyn Phillips van Gansbaai saam met haar ouers Jacobus en Jocelyn Phillips toe sy haar doktorsgraad verwerf het.


Vir haar is haar herkoms belangrik, en dit is waarom haar tesis gehandel het oor Bientang, ’n sogenaamde inheemse vrou wat in ’n grot in Hermanus gebly het.

Dit is hoe die skrywer, digter, sangeres en aktivis Jolyn Phillips van Gansbaai voel.

“Ek het op 20 September ’n PhD in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. My studieleiers was proff. Antjie Krog en Kobus Moolman. My verhandeling vier my herkoms, Gansbaai en Hermanus, en die belangrikheid dat afstammelinge van inheemse mense in die omgewing onthou en geëer moet word. Ek is trots dat my PhD se kennis uit die Overstrand kom,” het Phillips gesê.

“Kyk, as jy met ’n skryftalent gebore is, sal nie eens jou herkoms in jou pad staan nie, en dis presies wat Jolyn Phillips bewys het toe sy in 2016 haar debuut-kortverhaalbundel, Tjieng Tjang Tjerries, gepubliseer het,” het ’n leser van die kortverhaal­bundel gesê. Tjieng Tjang Tjerries het ook die kortlys gehaal vir die Universiteit van Johannesburg se debuutprys vir Suid-Afrikaanse literatuur en dit word ook met die Nasionale Instituut vir Sosiale-en-Geesteswetenskappe-prys vir beste fiksie bekroon. Haar debuutbundel, Radbraak het ook positiewe reaksie uitgelok.

Die bekende joernalis, uitgewer, skrywer en Hertzog-pryswenner Petra Müller sê oor Radbraak: “ ’n Klein aardbewing van ’n bundel. Hierdie skrywer het die Engel in die klip beet.”

Radbraak is vir die Elizabeth Eybers- en Ingrid Jonker-prys benoem en met die Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste debuut bekroon.

Dit is duidelik dat die skryfgogga Jolyn gebyt het en in 2020 het haar tweede bundel, Bientang, wat deur Human & Rousseau uitgegee is, verskyn.

Die publikasie Klyntji skryf oor Bientang as volg: “Dié digter gee gestalte aan geskiedenis wat nie skriftelik verewig is nie. Bientang is ’n epiese gedig waarin die raaisel van Bientang, ’n Khoi-strandloper wat in die vroeë 1900’s in ’n grot in Hermanus gewoon het, ondersoek word.”

Jolyn se talent en liefde vir die Overberg het almal aange­gryp en selfs die burgemeester van die Overstrand-munisipa­liteit, dr. Annelie Rabie, het gesê dis ’n besondere prestasie om op trots te wees. “Ons wil Jolyn graag gelukwens met haar doktorsgraad. Ons is baie trots op haar en weet sommer dit was ’n groot eer vir haar om die graad te ontvang met haar ouers aan haar sy,” het Rabie gesê. Meer oor Bientang

Die grot, veld en see voorsien aan Bientang – vis uit die see, water uit die strome en vrugte en groente uit haar tuin. Ander bronne sê Bientang was baie beskermend teenoor haar huis en is gereeld saam met muskelj­aatkatte en ander diere gesien. Historiese geskrifte en stories wat oor die jare vertel is, skets die buitelyne van Bientang as ’n spirituele wese met bonatuurlike kragte en die vermoë om met diere te kommunikeer. In Hermanus word geglo die gees van Bientang lok elke jaar die walvisse Walkerbaai toe.

ek dink die melkhoute wat ek geplant het sal ouer

as ek word en hulle sal my onthou in die ringe

die dag as hulle soos ek stompe word

vir vuur die sade wat ek geplant het is kinders teen my

hierdie melkhout het meer waarde om te lewe as ek

ek sal misgekyk word die aarde hou van wortels

wortels lewe wortels kan ondergronds asemhaal

dit is my vrees om onder grond asem te haal

die donkerte in die grot is my asemhaal

onder die grond ons wat soog ek en die walvis

dis altyd augustus vir ons ons is uitgehol

dragtig vir die see ek en die walvis ons kan albei

gevang word aan ons stert onderstebo gehang

geweeg word ons is iets vir die boeke

my bors is lug vanoggend – ’n witwolkbors

ek is jaloers op ’n boom wat langer as ek lewe

langer as ek hier kan bly en vir wie die grond plek maak

vir sy wortels my voetstappe sal ophou

melkhoutboom jy sal gewortel hier staan

omdat jy nie ’n gevaar is vir wat hier bo

in parrabaai gebeur nie ’n boom staan vir elke saad

wat ek in die grond gesit het waar ek lê het niks gegroei nie…

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article