Bettysbaai se Jukskeiklub is vanjaar as die mees suksesvolle jukskeiklub in die Overberg-distrik aangewys. Op die foto pryk die voorsitter en kaptein, Rocky Ruthven, en spanlede met die trofee.


Die jukskeiseisoen het einde Maart met ’n driespel-kompetisie in Sandbaai afgesluit.

Die heerlike koel weer het daartoe bygedra dat al die spelers hul beste kon lewer. In die vorige wedstryde hierdie seisoen is daar dikwels gekla dat die hitte die spelers se energie getap het.

Die A-span van Gansbaai was die algehele wenner met Jaco Botes, Karina Botha en Ronald Niksch wat as wenners uit die stryd getree het. Kleinmond se Christie Gerber, Gerrie Gerber en Bibi Schmidt was kort op hul hakke in die tweede plek. Groenberg se A-span met Johan Theron, Josef Saayman en Willie Marais was derde.

Die dag is met ’n heerlike geselligheid afgesluit waar Penny Davidson die trofeë uitgedeel het.

Bettysbaai se klub is vanjaar as die mees suksesvolle klub aangewys. Die klub se ledetal het gegroei, sy bane is opgeknap en die klub word besonder goed bestuur.

Die nuwe jukskei-seisoen sal weer aan die einde van September ’n aanvang neem.

Spelers gaan egter nog aan informele wedstryde in die wintermaande deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article